OUDTSHOORN NUUS - Die bestuurder van 'n Toyota Hilux het 'n noue ontkoming gehad toe sy bakkie Vrydagnag die pad verlaat het en bykans 400m verder in die veld beland het waar niemand dit van die pad af kon sien nie.
Volgens 'n familielid van die man, wat in sy laat vyftigs is, het hulle Vrydagaand op Oudtshoorn op hom gewag om van George af terug te keer.
"Ons het net na 22:00 met hom gepraat en toe sê hy hy sien ons oor minder as 'n uur," het die man Saterdag op die ongelukstoneel vertel.
"Toe hy nie opdaag nie het ek en sy vrou na hom gaan soek, maar ons kon hom nêrens op die George-pad sien nie en sy foon was ook af."
Volgens hom het hulle na middernag gaan slaap en die polisie het hulle vroeg Saterdagoggend opgeklop en hulle laat weet dat die bestuurder van die bakkie in 'n ongeluk was en in die hospitaal opgeneem is.
Hy het saam met die eienaar van 'n insleepdiens na die bakkie gaan soek. "Ons het op en af gery en uiteindelik die plek gekry waar hy van die pad af is, maar ons kon nie die bakkie sien nie."
Hy vertel dat hulle die bakkie se spoor deur die veld gevolg het en meer as 400m verder eers op die voertuig afgekom waar dit teen 'n helling op die sykant lê.
"As hy nie op een of ander manier hier kon uitkom en by die pad kon hulp soek nie, het hy seker nou nog hier gelê, want niemand kan die bakkie van die pad af sien nie," het die familielid Saterdag op die toneel gesê.
Hy het Maandag gesê dat die bestuurder reeds Saterdag uit die hospitaal ontslaan is en uiters gelukkig was om geen ernstige beserings op te doen nie.
Die bestuurder kan niks van die ongeluk onthou nie, behalwe dat hy voor die ongeluk baie benoud begin voel het. Dit blyk dat hy probleme met asma het.
Die bakkie soos dit teen 'n helling gevind is, word aan 'n kabel vasgemaak.
"Niemand kan die bakkie van die pad af sien nie."
'Ons bring jou die nuutste Oudtshoorn, Klein Karoo nuus'