LADISMITH NUUS - Die saak teen 'n man van Ladismith, wat van moord op sy vriendin aangekla word, is in die Oudtshoorn-streekhof vir verdere verhoor tot volgende jaar uitgestel.
Die 22-jarige Morné le Kay pleit onskuldig en plaas die blaam op iemand anders.
Sy vriendin, Shereen Schoeman (24), het gesterf van 'n hou teen haar kop op 20 April 2018.
Le Kay erken dat hy die betrokke aand tot in die vroeë oggendure saam met Schoeman en nog vriende gekuier het en sy later geweier het om saam met hom huis toe te gaan.
Hy het haar aan die arm getrek toe twee van die mans hom met 'n graaf en piksteel wou slaan. Een van hulle het die lig met die piksteel stukkend geslaan en hy het in die donkerte deur 'n venster geklim om buite te kom.
Met sy terugkeer na die vertrek het hy Schoeman op die grond sien lê met skuim wat uit haar mond kom.
Hy ontken dat hy haar teen die kop geskop het soos wat een van die getuies getuig het.
"Ek het gedink sy maak 'n grap en het probeer om haar wakker te maak. Ek het ook gedink dat hulle haar dalk gif ingegee het," het Le Kay getuig.
Le Kay het voorts getuig hy vermoed dat die persoon wat die lig stukkend geslaan het, vir Schoeman raakgeslaan het. Die staatsaanklaer, Brandon Smith, het dit aan Le Kay gestel dat sy weergawe nie sin maak nie.
Die saak word deur streeklanddros JC Nortjé aangehoor en is vir verdere verhoor tot 22 Januarie 2020 uitgestel.
'Ons bring jou die nuutste Ladismith, Klein Karoo nuus'