PRINS ALBERT NUUS - 'n Man van Prins Albert wat tereggestaan het op aanklag van die besit van ‘n ongelisensieerde vuurwapen en ammunisie is Maandag in die Oudtshoorn-streekhof onskuldig bevind en ontslaan.
Daniel Mars (37) het erken dat hy die aand van 14 April 2019 in besit was van ‘n 9mm semi-outomatiese pistool en ammunisie, maar nie geweet het dat dit in ‘n sak was wat twee onbekende mans vir hom gegee het om te dra nie.
Hulle het hom van sy selfoon en kontant beroof.
Hy is deur die polisie voorgekeer en toe hy omkyk was die twee mans glo weg. Omdat dit nie sy sak was nie het hy nie gehuiwer om die polisie toestemming te gee om dit te deursoek nie.
Een van die drie polisiebeamptes, sers. Derick Adams, het getuig dat Mars probeer weghardloop het terwyl hulle besig was om die sak te deursoek.
Die staatsaanklaer, Corné Pretorius, het die hof gevra om die beskuldigde se weergawe te verwerp.
Volgens hom is dit vreemd dat die beskuldigde nie ‘n saak van roof teen die twee mans aanhangig gemaak het nie. Sy weergawe dat hy te geskok was is belaglik.
Mars se regsverteenwoordiger, Vaughn Shone, het die hof versoek om hom die voordeel van die twyfel te gee en vry te spreek. Die staat het nie sy saak bo redelike twyfel bewys nie en daar is geen bewys van vingerafdrukke wat op die vuurwapen gevind is nie.
Streeklanddros Sylvia Mandla, het in haar uitspraak gesê dat die beskuldigde se weergawe redelik waar kan wees en nie sommer verwerp kan word nie.
"Die hof hoef nie oortuig te wees dat die beskuldigde se weergawe redelik waar is nie en sy weergawe kan nie net verwerp word omdat dit onwaarskynlik is nie," het die landdros gesê.
"Die vraag is, het die staat bewys dat die beskuldigde geweet het wat in die sak was. Hy was kalm toe hy deur die polisie voorgekeer is en geen vingerafdrukke van hom is op die vuurwapen gevind nie. As daar gekyk word na die totaliteit van die getuienis is die hof nie tevrede dat die staat sy saak bo redelike twyfel bewys het nie en word die beskuldigde die voordeel van die twyfel gegee en vrygespreek op albei klagtes."
Vorige artikel: Wapensaak uitgestel
'Ons bring jou die nuutste Prins Albert, Klein Karoo nuus'