PRINS ALBERT NUUS - Die saak teen 'n man van Prins Albert, wat op Oudtshoorn met 'n ongelisensieerde vuurwapen en ammunisie in hegtenis geneem is, is Maandag in die Oudtshoorn-streekhof vir uitspraak uitgestel.
Daniel Mars pleit onskuldig en sê dat hy die aand van 14 April 2019 'n paar biere in Bridgton gaan koop het, terwyl hy vir sy meisie gewag het.
Toe hy wou loop het twee mans hom van sy selfoon en geld beroof en 'n sak gegee om te dra terwyl hulle agter hom gestap het. Volgens hom het hy nie geweet wat in die sak is of waarheen hy dit moes neem nie.
Hy is deur die polisie voorgekeer en toe hy omkyk was die twee mans glo weg. Omdat dit nie sy sak was nie het hy nie gehuiwer om die polisie toestemming te gee om dit te deursoek nie.
Een van die drie polisiebeamptes, sers. Derick Adams, het getuig dat Mars probeer weghardloop het terwyl hulle besig was om die sak te deursoek. Hy het aan die polisie gesê dat 'n onbekende persoon die sak aan hom gegee het en hy dit weer na 'n ander persoon moes neem. Hy het egter nie enige name aan die polisie gegee nie.
Die staatsaanklaer, Corné Pretorius, vra die hof om Mars se weergawe te verwerp.
Volgens Pretorius is dit vreemd dat die beskuldigde nie 'n saak van roof teen die twee mans aanhangig gemaak het nie.
Streeklanddros Sylvia Mandla het die saak vir uitspraak tot 30 November uitgestel en Mars se borgtog tot dan verleng.
'Ons bring jou die nuutste Prins Albert, Klein Karoo nuus'