Update
OUDTSHOORN NUUS - 'n Konfrontasie tussen 'n man met 'n vuurwapen en 'n groep straatkinders verlede Woensdag, het gelei tot 'n klag van die afvuur van 'n wapen in 'n munisipale gebied sowel as poging tot moord.
Volgens sers. Gretchen Michaels, woordvoerder van die Oudtshoorn-polisie, het 'n 33-jarige man na bewering skote afgevuur en sy vuurwapen op 'n straatkind gerig.
Volgens haar het die voorval verlede Woensdag om 18:30 voor die CP Nel-museum plaasgevind.
"Na bewering is die persoon deur sowat 20 straatkinders genader wat begin oproerig raak het en van die kinders het glo messe gehad.
"Die man het toe sy vuurwapen, 'n 9 mm-pistool uitgehaal en twee skote geskiet. Na bewering het hy ook die vuurwapen op een van die kinders gerig."
Volgens kapt. Louis Visser, ook 'n woordvoerder van die Oudtshoorn-polisie, kan hulle nie kommentaar lewer oor in watter rigting die skote gevuur is nie, omdat dit moontlik "'n dispuut kan raak waaroor daar in die hof getuig moet word".
Hy het egter bevestig dat niemand in die voorval beseer is nie.
Michaels sê die verdagte, Uwe Kruger, het reeds op 9 Februarie in die hof verskyn en die saak is na 16 Maart uitgestel.
Kruger is op die toneel gearresteer en is nie in aanhouding nie.
Die Oudtshoorn Courant het met drie persone gesels wat glo die voorval sien gebeur het.
Volgens Lysander Jonck is hy 'n motorwag wat tydens die voorval voor die museum diens gedoen het.
"Ek het by die museum gestaan en gesien hoe die hele besigheid gebeur het.
"Die groep straatkinders, van ongeveer 20, het van Checkers se kant af in Baron van Reedestraat af ingestap. Daar was seuns en meisies in die groep.
"Hulle het in die rigting van die burgersentrum gestap.
"Die man het aan Karoopot se kant van die pad met sy bakkie gestop en oor die pad na die straatkinders toe gestap en toe die kanne wat in hulle hande was afgevat."
Volgens hom het die straatkinders begin skel waarna hulle omgedraai en geloop het.
"Die man het teruggestap na sy bakkie en toe weer na die straatkinders geloop wat tot verdere konfrontasie gelei het.
"Die man het daarna 'n geweer uit sy heupsak gepluk en twee skote geskiet. Hy het ook die geweer teen die kleinste een se mond vasgedruk."
Sy weergawe van die gebeure het met die ander twee met wie daar afsonderlik gepraat is en verkies om anoniem te bly, ooreengestem.
Aangesien daar ook ander weergawes van die voorval in die media is, het die Oudtshoorn Courant met Kruger kontak gemaak.
Hy het versoek dat vrae per e-pos aan hom gestuur word, maar het Woensdag aangedui dat hy eers na oorlegpleging met sy prokureur sal reageer.
Intussen het die polisie gisteroggend ingetree om 'n groep straatkinders wat langs die museum gelê het, te verwyder.
Amptenare van die departement van maatskaplike ontwikkeling het minderjariges onder hulle sorg geneem, terwyl die wat ouer is deur die polisie weggeneem is.
Een van die minderjariges het aan die Oudtshoorn Courant gesê hy was die een teen wie se gesig Kruger glo verlede Woensdag die vuurwapen gedruk het.
ARTIKEL: LIEZL VAN NIEKERK, OUDTSHOORN COURANT-JOERNALIS
'Ons bring jou die nuutste Oudtshoorn, Klein Karoo nuus'