CALITZDORP NUUS - 'n Man (48) van Calitzdorp is die week in die streekhof 20 jaar gevangenisstraf opgelê vir verkragting, seksuele aanranding en kinderpornografie.
Gert Flippies van die woonbuurt Bergsig op Calitzdorp het 'n pleit- en vonnisooreenkoms met die staat aangegaan.
Hy het tereggestaan op 43 klagtes van kinderpornografie, vier van verkragting en twee van seksuele aanranding.
Hy het erken dat hy tussen 2016 en 2018 foto's van kaal kinders geneem het terwyl hulle geslaap het, dat hy by vier geleenthede vier verskillende vroue wat by hom geslaap het, met sy vingers verkrag het. Hy het ook erken dat hy video-opnames met sy selfoon gemaak het en dit alles op 'n geheuestokkie gestoor het.
Die staatsaanklaer, adv. Michelle Weyers en Flippies se regshulpprokureur, Cindy Murray-Smith het tot 'n vergelyk gekom dat 20 jaar 'n geskikte en regverdige vonnis sal wees. aangesien Flippies aan ernstige misdrywe met vroue en kinders skuldig bevind is.
Streeklanddros Daniël Boks het Flippies skuldig bevind op al die aanklagte. Die klagtes is vir vonnisdoeleindes saamgeneem.
Hy het Flippies onbevoeg verklaar om 'n vuurwapen te besit en ook 'n bevel uitgereik dat sy naam in die nasionale register vir seksoortreders opgeneem moet word.
'Ons bring jou die nuutste Calitzdorp, Klein Karoo nuus'