OUDTSHOORN NUUS - 'n Man, wat na bewering die afgelope naweek by 'n motor ingebreek het, is in die George-hospitaal opgeneem na 'n ander man hom in die nek geskiet het.
Die voorval het Saterdagaand ongeveer 21:00 in Adderleystraat gebeur.
Volgens 'n ooggetuie wat op die toneel was, maar wat verkies om anoniem te bly, het 'n man, wat ook in Adderleystraat woon, Saterdagaand sy honde buite hoor blaf en toe gaan ondersoek instel.
"Die man het gesien dat daar iemand in 'n motor probeer inbreek. Die man en die inbreker het toe glo met mekaar begin baklei en 'n skoot het afgegaan. Sover ek kon aflei het die twee mans met mekaar op die grond baklei en die man wat geskiet het, het geval."
Die Oudtshoorn Courant het verneem dat 30-jarige man wat geskiet is steeds in die hospitaal is.
Kaptein Louis Visser, woordvoerder van die Oudtshoorn-polisie, sê 'n klag van poging tot moord en 'n klag van inbraak in 'n motor word ondersoek.
Visser het verder gesê die 30-jarige man het, na hy geskiet is weggehardloop.
"Die man is later by 'n hospitaal met 'n skietwond in sy nek aangetref."
Niemand is nog vir een van die klagtes in hegtenis geneem nie en die polisie se ondersoek duur voort.
'Ons bring jou die nuutste Oudtshoorn, Klein Karoo nuus'