LADISMITH NUUS - Die Ladismith-polisie het Maandagoggend 'n 24-jarige man in hegtenis geneem na hulle vermoedelik gesteelde goedere by hom gekry het.
Volgens kapt. Malcolm Pojie, Suid-Kaapse polisiewoordvoerder, het lede van Ladismith se visuele polisiëringseenheid die verdagte man Maandag in die vroeë oggendure in Pekeurstraat sien loop.
"Die man het te voet gevlug en die polisie het hom agterna gesit waar hy uiteindelik in Koningstraat in hegtenis geneem is. Die beamptes het hom deursoek en selfone, juwele, 'n tabletrekenaar en ander persoonlike items wat met 'n huisbraak verbind word, by die man gekry."
Pojie sê die ondersoek het die polisiebeamptes gelei na 'n huis waar daar glo vroeër die dag ingebreek is.
Die verdagte het reeds op 16 April in die Ladismith-landdroshof verskyn en die saak is tot 7 Mei vir verdere ondersoek uitgestel. Hy bly in aanhouding tot sy volgende hofverskyning.
'Ons bring jou die nuutste Ladismith, Klein Karoo nuus'