OUDTSHOORN NUUS - Die familie van Phillip Draai (62), die man wat gistermiddag deur twee Amerikaanse Veghonde in die Weermagkamp verskeur is, sukkel om sy wrede dood te verwerk.
Draai het gistermiddag blare in sy suster, Cathleen Dido, se erf gehark toe die twee Veghonde hom aangeval het.
Volgens Jimmy Dido, Draai se swaer, behoort die veghonde aan ‘n man wat naby hulle, ook in die Weermagkamp, woon en het die honde uit hulle erf ontsnap en Draai binne-in die Dido’s se erf doodgebyt.
“Phillip het gereeld hier gekom en het sommer die hark opgetel en skoongemaak omdat hy nie net wou sit nie. Gister het hy weer oudergewoonte die grond in die agterplaas gehark. Ek was nie by die huis toe die voorval gebeur het nie, maar my dogter het gebel en gesê ek moet dadelik huis toe kom.”
Dido sê ‘n vriend het by die erf in gestorm en geskree dat Draai in die huis moet hardloop want die honde jaag hom.
“Phillip was teen die agterste heining. Die teef het agter oor die heining gespring en die reun het voor by die erf ingestorm en my swaer aangeval. Hy het net so vyf tree gehardloop toe die honde van twee kante vaskeer. Hy is verskeie kere gebyt, meestal in sy gesig en nek.”
Salomé Plaatjies en haar broer Phillip Draai. Foto verskaf
Hy sê veral sy vrou en kinders is erg getraumatiseer.
"My vrou en kinders het gesien hoe Phillip aangeval word. Hulle en die bure het probeer om die honde van hom af te kry. Hulle het selfs die honde met halwe bakstene en klippe gegooi maar die honde wou nie los nie. Die eienaar van die honde is gebel en hy het net eenkeer geroep en toe los hulle."
Dido sê alhoewel die honde nog nooit mense gebyt het nie, het hulle al verskeie kere ander inwoners van die Weermagkamp se honde doodgebyt en ook verskeie kere mense wat in die straat, of self in hul eie erwe was, gejaag.
“My vrou het in die week nog wasgoed opgehang toe die honde weer uitgebreek het. Hulle het die bure se seuntjie in sy eie erf tot by die huis gejaag.
Die eienaar van die honde is al deur baie mense gevra om asseblief van die honde ontslae te raak, maar hy het nooit nie.”
Die honde is gisteraand na die munisipale skut geneem en is uitgesit.
Die saak word deur die polisie ondersoek.
Die heining waaroor die hond gespring het.
'Ons bring jou die nuutste Oudtshoorn, Klein Karoo nuus'