DE RUST NUUS - Die verhoor van 'n man van Aberdeen, wat van menseroof en seksuele aanranding van 'n vrou van De Rust aangekla word, het op Maandag 30 Mei in die Oudtshoorn-streekhof met die getuienis van die klaer begin.
Louis Lategan (39), het glo op 15 Oktober 2021 'n 39-jarige vrou net buite De Rust gevra om hom te gaan wys waar die Delports woon.
Terwyl hulle gery het, het hy haar gevra om haar T-hemp op te trek en haar borste met sy linkerhand betas.
Sy het getuig dat sy haar T-hemp opgelig het omdat sy nie geweet het of hy nie dalk wapens by hom gehad het nie.
"Toe hy verby die afdraaipad na die Delports ry het ek met handgebare verbygaande voertuigbestuurders se aandag probeer trek."
Sy het hom gevra om te stop omdat sy aan haar kind, kêrel en haar bejaarde ma gedink het.
Die beskuldigde het glo net geglimlag. Hy het 'n ent verder stilgehou en glo vir haar gesê dat hy haar gaan uitlaai "netnou dink die mense hy probeer haar ontvoer."
Hy het haar toe 'n pakkie sigarette gegee.
Lategan is later by 'n padblokkade deur die polisie voorgekeer en teruggebring na die De Rust-polisiestasie waar hy aangekla is.
Sers. Jullian Claassen van die De Rust-polisie, het getuig dat hy na die oproep in die rigting van Uniondale gery en die klaer sowat 10 km buite De Rust langs die pad gevind het. Sy kon toe 'n beskrywing van Lategan se motor gegee.
Nog 'n polisiebeampte, konst. Gino Nel, het getuig dat Lategan se silwer Mercedes by 'n padblokkade op die grens tussen die Oos- en Wes-Kaap voorgekeer is en hy glo baie verbaas was om te hoor dat hy vir ontvoering gesoek word.
Volgens Lategan se regsverteenwoordiger, Werner Swanepoel, sal hy getuig dat hy nie die klaer ontvoer of betas het nie en sy 'n storie opmaak.
Die saak word deur streeklanddros Daniel Boks aangehoor en is vir voortsetting uitgestel tot 17 Junie.
Lategan is op borgtog uit.
'Ons bring jou die nuutste De Rust, Klein Karoo nuus'