OUDTSHOORN NUUS - Daar is op hierdie stadium nie amptelike inligting oor wat Vrydag tydens 'n spesiale raadsvergadering op Oudtshoorn gebeur het nie.
Die vergadering het in komitee plaasgevind waartydens die tweede deel van die Webber Wentzel verslag voor die raad gedien het.
Die deel van die verslag gaan oor verskeie aangeleenthede wat deur Webber Wentzel ondersoek is op grond van klagtes deur die burgemeester en raadslede teen die munisipale bestuurder. Die name van amptenare en raadslede word in die verslag genoem.
Volgens onbevestigde inligting het die raad Vrydag besluit om die speaker, Julia le Roux en raadslid George Kersop op verpligte verlof te stuur. Dit is tans duidelik dat die tweespalt onder DA-raadslede steeds voortduur en dat die DA se beheer oor die raad wankelrig is. Daar is egter sprake dat die besluit om die twee raadslede met verlof te stuur nie regmatig was nie.
In reaksie op 'n navraag wat Vrydag aan die munisipaliteit gestuur is, het die waarnemende munisipale bestuurder gesê die kwessie sal weer Dinsdag op n raadsvergadering bespreek word en dat daar geen kommentaar op hierdie stadium gelewer sal word nie.
'Ons bring jou die nuutste Oudtshoorn, Klein Karoo nuus'