OUDTSHOORN NUUS - Oudtshoorn se eerste burger, Chris Macpherson, het verlede Donderdag tydens AfriForum se Veg en Bou-week by die Oudtshoorn Inn Hotel gesê dat die Wes-Kaap op die oomblik slegs 'n werkloosheidsyfer van 25% toon, die minste in Suid-Afrika.
Dié seminaar het deel uitgemaak van AfriForum se Veg en Bou-week.
"Nog 'n positiewe is dat ons provinsie ook die enigste is wat groei toon in hierdie verband. In kort beteken dit dat die Wes-Kaap 'n invloei van mense het wat werk kom soek. Enige dorp wat nie voorsiening hiervoor maak nie, is gedoem. Vrae soos, "Kan jou infrastrukture dit hanteer? Gaan jy die ekonomie kan stimuleer, want indien nie, kan dit 'n nadelige effek op jou basiese hulpbronne soos water hê. Dis hoekom dit belangrik is om vooraf planne in plek te sit om probleme van hierdie aard die hoof te bied."
Macpherson het in dieselfde asem gesê dat die huidige beherende koalisie groot planne het om Oudtshoorn selfonderhoudend te maak in terme van elektrisiteit en kragvoorsiening.
"Ons kyk ook na groen energie soos bio-brandstof. Dan is daar ook die opsie van hidroëlektrisiteit. Dit het duidelik geword dat ons moet begin om meer innoverend te begin dink en nie net bloot staat te maak op die staat nie. Die land en ons streek beskik oor die nodige kundiges om ons visie 'n realiteit te maak. Die onus rus net op ons om die kundiges in te span," het Macpherson beklemtoon.
Volgens Macpherson moet daar ook gekyk word wat gedoen kan word om 'n dorp soos Oudtshoorn aanloklik te maak vir ontwikkeling.
"Ons het 'n beleid saamgestel om seker te maak dat ons ontwikkelaars gee wat hulle nie in ander plekke kry nie. Hierdie beleid is natuurlik volgens skaal saamgestel afhangend van die tipe ontwikkeling wat beoog word. Dan is daar ook planne vir 'n inkopiesentrum wat in Augustus in aanvang neem. Bykomend is daar nog een of twee ontwikkelings ook in die pyplyn. Langs die N1 en N2 is die R62 wat hierlangs gaan wat voortaan 'n al hoe belangriker roete raak. So daar moet ook nou al voorsiening gemaak word hoe om die verkeersvloei te hanteer."
Verwante artikel: Veg en Bou-week in Oudtshoorn gehou
‘Ons bring jou die nuutste Tuinroete, Hessequa, Karoo nuus’