Volgens Mageline September, Clara Crisjan (27) se vriendin, het sy Sondag op Crisjan se verwoeste liggaam afgekom.
Crisjan se drie kinders Henseliko (10), Moshadine (6) en Prinses (2) het ook na bewering gereeld gesien hoe die man haar slaan.
"Henry Oosthuizen is die man wat die vreeslike goed aan haar gedoen het. Hy het lankal gedreig om haar dood te maak omdat hy glo dat Clara se baba nie syne is nie. Hy is verlede jaar Augustus uit op parool. Hy het vir verkragting gesit," vertel sy.
September het die Oudtshoorn Courant na haar opslaanhut in die GG-Kamp geneem waar sy Crisjan se liggaam in haar slaapkamer op haar bed gekry het.
"Sy het Sondagoggend in 'n bondeltjie op haar bed opgekrul gelê. Sy was klaar koud. Sy het houe oral op haar lyf gehad. Dit lyk of sy doodgeslaan is. Daar het 'n paaltjie wat hy van die hok afgebreek het langs haar op die grond gelê. Hy het ook 'n stok in haar onderlyf gedruk," vertel sy.
Volgens September het die bakleiery reeds Saterdagaand begin toe Oosthuizen vir Crisjan in die huis in geneem het. Hy het Crisjan na bewering begin slaan en gesê dat hy haar sou "vrek" maak.
"Sy het selfs op 'n stadium gesê sy kan nie meer nie hy moet ophou, maar hy het nie. 'n Familielid het hom kom haal en gesê hy moet kalmeer en die Sondag terugkom."
Crisjan se ouers, Andries en Maria Crisjan, is hartgebroke oor hulle lieflingkind wat op die manier moes heengaan.
Haar ouers woon op 'n plaas op die Buffelsdrift-pad.
Die huilende Andries het vertel van die mishandeling wat sy dogter reeds deurgemaak het.
"My dogter het die heeltyd vir my gesê sy wil nie hê ek moet huis toe gaan nie, want ons weet nie wat die man aan haar doen as ons weg is nie. Ek het haar Saterdag gevra hoekom haar oog blou is en sy het my gesê hy verrinneweer haar," het hy hartseer vertel.
Sers. Gretchen Micheals, woordvoerder van die Oudtshoorn-polisie, het die voorval bevestig.
Volgens haar was Oosthuizen uit op parool toe die voorval plaasgevind het. Oosthuizen het die week in die Oudtshoorn-landdroshof verskyn. Sy sê die ondersoek duur voort.

Andries en Maria Crisjan se harte is gebreek oor die moord van hul dogter Clara. Sy is Sondag-oggend op haar bed in haar slaapkamer aangetref.
ARTIKEL: LIEZL VAN NIEKERK, OUDTSHOORN COURANT-JOERNALIS
'Ons bring jou die nuutste George, Tuinroete nuus'