OUDTSHOORN NUUS - 'n Vrou (53) het Maandag omstreeks 17:30 in 'n botsing op die George-pad omgekom terwyl 'n seun van 8, wat saam met haar was, ongedeerd is.
Mieta Matiwana en Charlton Olyn van die plaas Klipdrift, was vanaf Oudtshoorn onderweg plaas toe toe 'n aankomende Isuzu-bakkie hulle Nissan Sentra reg van voor getref het.
Volgens die bestuurder van 'n Kia Picanto wat agter Matiwana gery het, het die bakkie op die draai oor die middellyn gekom en die blou Sentra voor haar getref.
"Ek het links geswaai en is op die gruis langs hulle verby, maar die slag het die Sentra reg voor my op die kant van die pad laat beland en ek het daarteen gebots."
Die vrou, wat na George onderweg was, sê sy het dadelik besef die bestuurder van die Sentra is ernstig beseer. Sy het die seuntjie probeer kalmeer en verbygaande motors voorgekeer.
"Ek was so geskok, al waaraan ek kon dink was om my man op Oudtshoorn te bel sodat hy die ambulans kan bel."
Haar man het kort na die botsing ook by die toneel aangekom om haar te ondersteun.
Die drie insittendes van die Isuzu-bakkie is buitelanders wat met voorraad vir hulle winkel vanaf George na Calitzdorp onderweg was. Volgens een van hulle het die son die bestuurder in die draai verblind waarna die botsing plaasgevind het. Nie een van die drie is beseer nie.
Met die aankoms van die nooddienste was Matiwana reeds dood en die motorwrak moes oopgesny word om haar liggaam uit te haal. Sy het ernstige hoof- en borsbeserings opgedoen.
Volgens haar een seun Maxwell, wat in George woon, het kennisse van die familie op die botsing afgekom en hulle gekontak. "My broer, Johannes wat ook op die plaas bly, was dadelik op die toneel. Ons is steeds erg geskok, maar dankbaar dat Charlton niks oorgekom het nie. Die familie maak hom van kort na sy geboorte groot nadat sy ma oorlede is."
Volgens Maxwell het Mieta teruggekeer van Oudtshoorn af nadat sy gordyne gekoop het wat iemand op Facebook geadverteer het. Sy en Charlton was enkele kilometer van die plaas af toe die botsing plaasgevind het. Finale begrafnisreëlings was teen Woensdag nog nie bekend nie.
Die botsingstoneel met die Kia Picanto en Nissan Sentra op die agtergrond. Foto's: Hannes Visser
Die wrak van die Nissan Sentra nadat dit oopgesny is om die liggaam uit te haal. Foto: Hannes Visser
'Ons bring jou die nuutste Oudtshoorn, Klein Karoo nuus'