OUDTSHOORN NUUS - Inwoners kry op Donderdag 19 Junie om 18:00 die geleentheid om terug te stap in die verlede met 'n spesiale middag by Le Roux-dorpshuis in Hoogstraat.
Oor 'n koppie sop en 'n glasie soetwyn gaan stories gedeel word oor Oudtshoorn se grande dame, Rose van Niekerk. Herman Labuschagne gaan die verwelkoming en bedankings behartig terwyl Alta le Roux meer oor die dorpshuis se agtergrond gaan vertel.
Hazel Jonker gaan gesels oor Rose van Niekerk wat in die Le Roux-dorpshuis gewoon het waarna Blackie Badenhorst ook gaan gesels oor die besonderse argitektoniese skat in Oudtshoorn.
Kaartjies word verkoop teen R50 per persoon, alle fondse gaan aan die Vriende van die CP Nel-museumfonds.
Die Le Roux-dorpshuis is 'n onderafdeling van die CP Nel-museum. Die huis, wat in 1980 tot nasionale monument verklaar is, is 'n uitsonderlike voorbeeld van die welvaart van die volstruisera.
Dit spog met unieke argitektoniese elemente, waaronder die opvallende Art Nouveau-loodglasvensters, oorspronklike meubels en ornamente wat besoekers na 'n vervloë tydperk terugvoer. Die huis is een van die min oorblywende volstruispaleise wat nog in stand gehou word.
Dié erfenisskat is 'n besoek werd.
Vir navrae oor die geleentheid kontak Christo Smit by 072 833 7723.
‘Ons bring jou die nuutste Tuinroete, Hessequa, Karoo nuus’