OUDTSHOORN NUUS - Oudtshoorn-munisipaliteit, in samewerking met Tuinroete-distriks-munisipaliteit, het onlangs 'n operasie onderneem wat daarop gemik is om lugkwaliteit in die streek te verbeter.
Die fokus van die operasie was om met alle skrootmetaalbesighede in die area in gesprek te tree om bewustheid te skep van die implikasies van die herwinning van metaal uit enige vorm van afvalmateriaal deur die toepassing van hitte (oop vure).
Oop vure by skrootmetaalbesighede is lank reeds 'n bekommernis vanweë hul potensiële impak op luggehalte en die omgewing. Verteenwoordigers van die Oudtshoorn-munisipaliteit en Tuinroete-distriksmunisipaliteit het hierdie besighede besoek en 'n konstruktiewe dialoog gevoer oor die belangrikheid daarvan om van oop vure te weerhou, die verbranding van plastiek/rubber en die metode wat gebruik word om metaal uit enige vorm van afvalmateriaal te herwin.
Die fasiliteite het hierdie besoeke verwelkom en hul bereidwilligheid uitgespreek om aan die regulasies te voldoen.
Die reaksie wat van die skrootmetaal-fasiliteite ontvang is, het 'n gesamentlike begrip van die behoefte om lugkwaliteit en volhoubaarheid te prioritiseer, beklemtoon.
Met 'n opregte verbintenis om met die munisipaliteite saam te werk, het hierdie besighede hul volle samewerking belowe om te verseker dat oop vure iets van die verlede word.
Benewens om die skrootmetaalbesighede daaraan te herinner om die lug en afval verantwoordelik te versorg, het die Tuinroete-distriksmunisipaliteit ook hierdie kans gebruik om hulle in te lig oor die probleme as hulle dinge teen die wet doen. Die onderwerpe waaroor gepraat is was spesifiek gebaseer op die Wet van Nasionale Omgewingsbestuur.
Een van die kwespunte waaroor amptenare van die Tuinroete-distriksmunisipaliteit onder meer gepraat het was om metaal uit afvalmateriaal met hitte te haal. Dit is op die lys van dinge wat die omgewing kan benadeel.
Volgens die amptenare mag geen persoon dit doen sonder 'n spesiale lisensie nie. Hierdie reël geld regoor die land.
Hierdie besighede het die versekering gegee om die reëls te volg, maar dit is belangrik om te weet dat hierdie operasie nie 'n eenmalige gebeurtenis is nie en dat hulle voortaan gemonitor sal word.
"Hierdie operasie demonstreer die verbintenis van beide munisipaliteite tot 'n skoner, gesonder omgewing vir alle inwoners. Die sukses van hierdie projek wys hoe saamwerking positiewe dinge kan laat gebeur."
‘Ons bring jou die nuutste Tuinroete, Hessequa, Karoo nuus’