OUDTSHOORN NUUS - Die saak teen ’n voormalige munisipale bestuurder van Oudtshoorn, wat teregstaan op tien aanklagte van bedrog, is verlede Donderdag in die Oudtshoorn-streekhof vir verhoor na ‘n spesiale hof in Kaapstad oorgeplaas.
Streeklanddros Ntsoki Moni het ‘n versoek van die staat dat die saak teen die beskuldigde, Ronnie Lottering, in die Oudtshoorn-streekhof moet dien, van die hand gewys.
Lottering word daarvan aangekla dat hy tussen Mei 2013 en April 2015 op onwettige wyse vir Imvusa Trading, Tremenders en Ihlati Communications as diensverskaffers vir die munisipaliteit aangestel het, aan wie miljoene rande betaal is.
Volgens die landdros het sy instruksies ontvang dat alle sake wat gaan oor kommersiële misdade na die spesiale hof in Bellville oorgeplaas moet word en sy nie daarvan kan afwyk nie.
Lottering moet op 6 Mei by die hof in Bellville aanmeld.
‘Ons bring jou die nuutste Tuinroete, Hessequa, Karoo nuus’