OUDTSHOORN NUUS - Die Oudtshoorn-munisipaliteit het onlangs 'n loopbaanuitstalling vir werkloses by die Thusong-sentrum in Bongolethu gehou.
Volgens Aurelia Oliphant, woordvoerder van die Oudtshoorn-munisipaliteit, is dit hulle visie om 'n sterk gemeenskap te bou wat daarna strewe om die lewenskwaliteit van die inwoners op 'n volhoubare manier te verbeter.
"Die loopbaanuitstalling is 'n program wat gefokus het op die jongmense in die Groter Oudtshoorn en ook op matrikulante wat werkloos is.
"Die program is van stapel gestuur om interaksie tussen jongmense en verskillende onderwysinstellings en ook regeringsorganisasies te bewerkstellig.
"Verskillende beroepsmoontlikhede wat beskikbaar is in verskillende sektore, is hier ten toon gestel en die jeug was oor verskeie loopbaankeuses ingelig."
Sy het verder gesê die uitvoerende burgemeester, Colan Sylvester, het al by meer as een geleentheid genoem dat dit een van die munisipaliteit se doelwitte is om jongmense bo hul omstandighede uit te lig en sukses te behaal.
Volgens haar het die munisipaliteit verskeie beurse vir jongmense geadverteer en is geldinsamelingsprojekte vir meer beurse ook van stapel gestuur.
Jong mense tydens die beroepsdag by die Thusonsentrum.
Daar was ongeveer 286 jeugdiges en 23 uitstallers van verskillende organisasies wat die uitstalling bygewoon het.
'Ons bring jou die nuutste Oudtshoorn, Klein Karoo nuus'