OUDTSHOORN NUUS - Die Little Angel-organisasie wat reeds verskeie projekte ten bate van liefdadigheid aangebied het, is Vrydagaand amptelik bekend gestel.
Die funksie het by die Greenside Restaurant by Oudthoorn-golfklub plaasgevind.
“Little Angels is daarop gemik om kinders, vroue en bejaardes van alle ouderdomme, te help, want elkeen verdien dit om warm en veilig te wees en kos te hê. Ons wil simpatie en empatie toon,” sê Hester Grint, voorsitter van die organisasie.
Volgens Grint is die doel van Little Angels om die gemeenskap te help deur mense se lewens te verbeter en hul menswaardigheid vir hulle terug te gee.
“Ons wil diegene wat deur omstandighde platgeslaan is, ‘n geleentheid gee om weer op te staan.”
Little Angels help sonder om te kyk na ras, geloofsoortuiging of omstandighede. “Niemand is te arm of te vuil om gehelp te word nie,” sê Grint. “Niemand word geoordeel nie, maar net gehelp.”
Little Angels maak staat op bydraes uit die gemeenskap en die boeke word geoudit. Die skenker en die persoon wat hulp ontvang se identiteit word beskerm.
“Dit is nie altyd maklik om in almal se behoeftes te voorsien nie en sonder die gemeenskap en God die Vader sal dit nie moontlik wees nie.” Volgens haar word nooit beloftes van hulp gemaak wat nie gehou kan word nie.
“Ons kan nie hulp belowe nie, want ons is van die gemeenskap en van God afhanklik vir hulp.”
“Mense lees van ons op Facebook of praat onder mekaar oor ons werk. Wanneer nood onder ons aandag gebring word, gaan ons na die woning en stel ondersoek in na die omstandighede."
Vroue wat deur omstandighede reddeloos gelaat is, word aangespoor om onder meer tuin te maak of hul talente aan te wend om na hulself om te sien.
“Enige persoon wat nie drink nie word gehelp, maar ‘n gesin of individu ontvang slegs twee keer hulp.”
‘n Berader staan almal by wat hulp nodig het. “Die berader se rol is om te luister sonder om te oordeel om te help en moed in te praat en medemenslikheid te betoon.
Haar taak is om mense te laat glo dat hulle weer kan opstaan en dat hul omstandighede hulle nie gevange hoef te hou nie.”
Little Angels is in November 2016 gestig. Die komitee bestaan uit Grint (voorsitter), Anneline Smith (ondervoorsitter), Liezl van Niekerk (tesourier), Tersia du Randt (sekretaresse), Hein Coetzee (adviseur), Bridgette Solomons (menslike hulpbronne), Noluthando Mwati (projekleier), en lede Marshall Koopman en Letitia de Lange.
Little Angels werk nou saam met Salome September-Plaatjies (berader), Cyril Moyene (dwelmrehabiliteerder), en Adele Wright (Solidariteit Helpende Hand).
Grint het twee jaar gelede saam met haar man David en dogters, Jade en Abigail, vanaf Standerton na Oudtshoorn verhuis. “Ek het die Here belowe ek sal vir Hom werk as hy vir my kinders gee en Hy het vir my twee pragtige dogters gegee,” vertel sy.
“My man David ondersteun my gemeenskapswerk die afgelope 18 jaar deur daar te wees vir my en my toe te laat om my passie uit te leef.”
Vir meer inligting oor Little Angels, kontak Hester Grint by 084 811 1936 of Anneline Smith by 084 703 5000, of op Facebook onder Little Angels Oudtshoorn.
Voor: Tersia du Randt, Hein Coetzee en Nolothandu Mwati.
Agter van links is: Hester Grint, Bridgette Solomons, Anneline Smith en Liezl van Niekerk.
'Ons bring jou die nuutste Oudtshoorn, Klein Karoo nuus'