OUDTSHOORN NUUS - 'n Groep vroue van Oudtshoorn, wat reeds 'n geruime tyd by 'n kuns en kultuurprojek betrokke is, het onlangs begin om hul talente te gebruik om bewusmaking oor herwinning te skep.
Gloria Hendricks, een van die ongeveer 20 vroue wat by die projek betrokke is, sê Anneline Badenhorst het hulle eendag genader.
"Sy het 'n klomp plastieksakke langs die pad sien lê en besef hoe vieslik die rommel langs die pad lyk en sy het daarna die projek geïnisieer. Ons gebruik plastieksakke wat in die strate rondlê om mee te hekel."
Volgens haar, was hulle eers die sakke waarna dit netjies geknip en in bolletjies gerol word sodat dit reg is om te gebruik.
"Dit het eenvoudig begin en ons het net blokke gehekel. Baie van die dames kon net brei en ons het so mekaar leer hekel. Ons het nuwe patrone geleer en nou maak ons tafeldoeke, plekmatjies en sakke."
Die dames werk elke Donderdag by die Lighuis-sentrum.
Lisa de Beer, wat by die Lighuis-sentrum betrokke is, sê sy is geweldig trots op die dames se vordering met die projek.
"Hulle het die jaar 'n stalletjie by die KKNK gehad en daarna het hulle op bestellings gewerk. Op die manier genereer hulle ook vir hulself 'n inkomste," het sy gesê.
Van links is Lenie Ayford, Gloria Hendricks en Johanna Botha, met van die produkte wat gemaak word. Foto: Liezl van Niekerk
De Beer sê met die Lighuis-herwinningsprojek probeer hulle ook bewusmaking in die gemeenskap skep sodat kinders kan leer om nie rommel te strooi nie.
"Ons maak ook Eco Bricks bymekaar en het die kinders geleer om die bottels propvol papiere en ander rommel te stop. As hulle bottels mooi hard en vol is kry hulle R2 'n bottel."
De Beer sê enigiemand wat by die herwinningsprojek betrokke wil raak is welkom.
Mense wat wil help kan plastieksakke by die Lighuis, Wimpy of Mugg & Bean afgee. Bestellings vir produkte kan na ann.bad55@gmail.com gestuur word.
'Ons bring jou die nuutste Oudtshoorn, Klein Karoo nuus'