OUDTSHOORN NUUS - ‘n Bekende en geliefde inwoner van Oudtshoorn, Yolandi Nel (34), is Woensdagmiddag, 24 Desember, oorlede.
Yolandi het die afgelope tien jaar teen kanker geveg, maar ondanks haar siekte voluit geleef en elke geleentheid aangegryp.
Sy was bekend vir haar avontuurlustige gees en lewenslus.
Haar groen Volkswagen Beetle, bekend as ‘Joy’, was ‘n bekende gesig in die dorp.
Baie inwoners onthou hoe Yolandi saam met haar twee spaniels deur Oudtshoorn se strate gery het, met die honde wat vrolik by die vensters uitgehang het.
Ter nagedagtenis aan Yolandi het haar pa, André Nel, besluit om die motor, wat die afgelope jaar voor Yolandi en haar verloofde se huis geparkeer was weer aan die gang te kry.
Hy en haar ma, Maria Nel, het die Beetle met kersliggies versier en Kersaand deur die dorp se strate gery. “Landi sou dit gelove het,” het die familie gesê.
Volgens haar ouers het Yolandi die 1973 Volkswagen Beetle 17 jaar gelede gekoop en dit bestuur totdat haar gesondheid haar nie meer toegelaat het om te ry nie.
As jong meisie het sy die motor met blomme versier, ‘n kenmerk wat sinoniem met haar persoonlikheid geword het.
Haar verloofde, Stephen Terblanche, wat haar tot aan die einde bygestaan het, het saam met Yolandi se naaste vriende Vrydagaand, 26 Desember, weer die liggies aangeskakel en ‘n laaste gedenkrit deur Oudtshoorn se strate onderneem.
Stephen het gesê die gemeenskap se reaksie was oorweldigend, met vriende wat langs Baron van Reedestraat erewag gestaan het terwyl die Beetle verbygery het. In Nelstraat het vriende ‘n tafel met kerse en rose opgerig ter nagedagtenis aan Yolandi.
Wyle Yolandi Nel. Foto: verskaf
Hoewel familie en vriende diep hartseer is oor haar heengaan, sê hulle hul harte is vol en glo dat die nalatenskap van Yolandi, haar mooi hart en haar geliefde groen Beetle nog lank in Oudtshoorn sal voortleef.
‘Ons bring jou die nuutste Tuinroete, Hessequa, Karoo nuus’