OUDTSHOORN NUUS - Die liggaam van 'n onbekende manspersoon is Dinsdagmiddag rondom 12:00 in Loopstraat deur 'n verbyganger gevind.
Lede van die publiek het die polisie gekontak toe hulle die man buite in die straat sien lê het. Volgens 'n ooggetuie het die man reeds sedert Maandag op dieselfde plek gesit.
"Ek het die vorige dag verby hom gestap, en gesien die oom het net een skoen aan, maar hy was maar altyd deurmekaar, daarom het ek nie gedink om te stop en te vra of hy orraait is nie. Dinsdagoggend het hy nie meer gesit nie, maar langs die pad gelê. Ai, die arme man het soos 'n hond op die straat gesterf."
Met die aankoms van Oudtshoorn Courant op die toneel was die polisie se forensiese eenheid reeds besig om die liggaam te verwyder.
'n Ooggetuie op die toneel het vertel dat die man 'n ou bekende is wat deur die strate van Oudtshoorn geloop het, altyd met sy baadjie, langbroek en skoene geklee.
"Ons het die ambulans gebel, dit het gelyk asof hy nog gelewe het. Die oom se blyplek was net hier waar hy gesterf het, niemand het vrae gevra oor hoekom hy hier op die kartonne slaap nie. Die oom het sy pensioen gekry, hy was ongeskik verklaar vir werk. Hy het selfs sy medisyne by die kliniek gekry, maar wie sy pille vir hom gegee het weet niemand nie."
Volgens ao. Gretchen Micheals, woord-voerder van die Oudtshoorn-polisie, is die persoon se liggaam na die hospitaal geneem waar hy dood verklaar is.
"Dit is onbekend wat sy dood veroorsaak het. Geen steekwonde of sigbare beserings is aan sy liggaam gevind nie. 'n Nadoodse ondersoek sal gedoen word om vas te stel wat sy dood veroorsaak het."
Die slaapplek van die onbekende manspersoon.
Met die aankoms van Oudtshoorn Courant op die toneel, het die liggaam agter die polisiebakkie gelê.
Vorige Artikel: Liggaam in Loopstraat gevind
'Ons bring jou die nuutste Oudtshoorn, Klein Karoo nuus'