OUDTSHOORN NUUS - Aletta (66) en Brian Limerick (60) is die nuutste egpaar in Helen Bellinganhof-versorgingsoord.
Hulle het in Februarie vanjaar in Bellinganhof ontmoet en kon van daar af nie mekaar weerstaan nie, en is sommer die afgelope naweek in die eg verbind.
Vir beide van hulle was dit liefde met die eerste oogopslag. Aletta vertel dat sy ongeveer 'n jaar terug in Bellinganhof ingetrek het.
"Ek is deur 'n rowwe tyd en 'n baie moeilike egskeiding. Toe ek hier intrek het ek gedink dit is maar waar ek gaan doodgaan en ek het vrede daarmee gemaak. En toe ontmoet ek vir Brian en als het verander."
Volgens Aletta het sy vir Brian deur 'n vriendin ontmoet en het hulle gereeld saam kaart- en bordspeletjies gespeel.
"As ek so vir hom gekyk het, het ek net gedink dat ek graag aan hom wil vat. Ek het heeltyd aan hom gedink."
Sy sê sy het later haar vriendin vertel hoe sy oor Brian voel en dié het haar aangemoedig om met hom te gesels.
"Gelukkig het hy dieselfde gevoel."
Brian sê dat hy ewe verlief was toe hy haar die eerste keer sien.
"Ek het in Januarie van die Kaap af hierheen verhuis. Ek het terminale emfiseem en wou nie langer 'n las op my kinders wees nie.
"Ek is ook al etlike jare geskei en het vrede gemaak met die feit dat ek hier op my eie sou doodgaan, maar Aletta was soos 'n engel."
"Sy het so gesofistikeerd gelyk die eerste keer toe ek haar sien. Ek was so bly toe sy my sê hoe sy voel, maar ook bang, omdat ek weet ek nooit sal gesond word nie."
Aletta sê hoewel dit vir haar hartseer is, gaan sy nie dat dit hulle keer om ware geluk en liefde te ervaar nie.
"Beide van ons is deur genoeg en verdien ook geluk en liefde. Ons het besluit om te trou, want dit is die regte ding voor God se oë om te doen."
Aletta en Brian sê hulle kinders was baie opgewonde omdat hulle mekaar ontmoet het en besluit het om te trou.
"Ons wil ons wittebrood in die Kaap gaan hou," het Aletta gesê.
Aletta sê jong paartjies moenie net trou nie.
"Maak seker die een wat jy lief het is die regte een. Die belangrikste aspek in die huwelik is respek vir mekaar en vir God. Eerlikheid speel net so 'n groot rol en as mens mekaar kan respekteer kom die res vanself."
'Ons bring jou die nuutste Oudtshoorn, Klein Karoo nuus'