OUDTSHOORN NUUS - Liebe Oosthuizen, 'n oudleerder van Langenhoven Gimnasium, speel deesdae tennis in Amerika.
Liebe is 'n bekende in tenniskringe en het haar talent gebruik om haar drome te bewaarheid.
Sy het 'n vier jaar tennisbeurs ontvang om by Davis & Elkins College in West Virginia, VSA, te studeer.
Die 21-jarige tennisspeler het hierdie geleentheid gekry danksy haar prestasies op Tennis Suid-Afrika (TSA) se ranglys en haar deelname aan die SA span.
Volgens haar ma, Karin Oosthuizen, is haar hoofvakke besigheid en finansies. Sy speel vir die universiteit se tweedeliga en toer gereeld saam met haar span. "Sy vaar uitstekend en bly toegewyd aan haar sport en akademie," vertel Karin.
Liebe, wat reeds op sesjarige ouderdom met tennis begin het, het op 'n jong ouderdom die SA span gehaal en was altyd onder die top-15 in die land. Karin en haar man, Kallie, het haar droom van kleins af ondersteun.
"Sy het op 10-jarige ouderdom besluit wat sy wil doen en ongelooflik hard gewerk om dit te bereik. Sy wou nog altyd in Amerika studeer en tennis was die voertuig om dit moontlik te maak. Sy moes nie net in tennis uitblink nie, maar ook akademies presteer om hierdie geleentheid 'n realiteit te maak."
Die pad na sukses was egter nie altyd maklik nie. Liebe moes dikwels teen sterker spelers oefen en moes selfs gereeld na George reis om geskikte teenstanders te kry.
"Dit het ongelooflik baie gekos, aangesien sy aan soveel moontlik toernooie moes deelneem om op die ranglys te bly. Sy het selfs aan 'n Internasionale Tennisfederasie-toernooi deelgeneem, maar die koste van sulke toernooie is geweldig hoog," vertel Karin.
Ondanks die uitdagings, is Karin en Kallie onbeskryflik trots op haar dogter se deursettingsvermoë en prestasies. "Sy het alleen op 'n vliegtuig geklim en op haar eie ingetrek. Dit was moeilik om haar te laat gaan, maar as ouer wil jy net die beste vir jou kind hê. Ek weet sy is besig om haar drome te verwesenlik."
‘Ons bring jou die nuutste Tuinroete, Hessequa, Karoo nuus’