OUDTSHOORN NUUS - Chris Swart, senior bestuurder van water en riool by Oudtshoorn-munisipaliteit, het onlangs 'n vergadering gehou om kwessies voortspruitend uit die leiwaterskema, saam met 'n inwoners-ondersteuningsgroep, aan te spreek.
Hy vertel dat hy tot op hede slegs twee inwoners, uit die twaalf blokke gekry het wat belangstelling getoon het om hulle onderskeidelike blokke te verteenwoordig.
Hierdie twee persone sal na die volgende leiwaterbestuursvergadering, wat elke maand gehou word, genooi word, sê hy.
Hy het ook sy bekommernis uitgespreek oor inwoners wat onwettig aan sluise in die leiwatervore peuter.
"Ons het gevind dat inwoners onregmatig met sluise peuter wanneer dit nie noodwendig hulle leiwaterbeurt is nie. Verder sit inwoners, wat nie leiwaterbeurte het nie, pompe in die sloot en trek so onwettig water. Onder die munisipale verordenings kan die publiek wat met munisipale infrastruktuur, soos die sluise peuter, beboet word," sê Swart. Volgens hom staar oortreders 'n boete van R3 000 in die gesig.
"Waar ons bewus word van so iets, gaan ons wetstoepassers uitstuur," sê Swart.
Hy vra die samewerking van die publiek om oortreders aan te meld.
‘Ons bring jou die nuutste Tuinroete, Hessequa, Karoo nuus’