Update Video
OUDTSHOORN NUUS EN VIDEO - 'n Skrywer wat in Oudtshoorn gebore is, hier skoolgegaan het en haar onderwysstudies hier voltooi het, en na jare as onderwyseres in die Kaap, en vanjaar in Hartenbos afgetree het, se eerste kinderboek is nou beskikbaar.
Dit is nie net 'n lekkerlees-storieboek nie, maar bevat boonop opvoedkundige elemente.
Jurina Aucamp was 30 jaar in die onderwys. Sy het haar onderwysloopbaan by Laerskool Gene Louw in Durbanville afgesluit. Die boek Ronnie die renostertjie is deur 'n dogtertjie se liefde vir renosters geïnspireer.
Die boek handel oor 'n renostertjie wat op 'n wildsplaas deur 'n dogtertjie versorg is nadat sy ma en pa dood is. Die renostertjie is grootgemaak sodat hy nie baie kontak met mense gehad het nie, juis met die doel dat hy later in die boek weer in die natuur vrygelaat word.
Kyk 'n video deur Mossel Bay Advertiser hieronder:
Ronell Lareman, 'n onderwyseres wat grafiese ontwerp by Hoërskool Oudtshoorn gee, het al die illustrasies vir die boek gedoen met prag uitbeeldings van die renostertjie se lewe. Ronnie die renostertjie is pas in Engels as Ronald the Rhino vertaal en sal binne twee weke ook beskikbaar wees.
Jurina het ook twee ander boeke in die pyplyn by name Truida die volstruis se grootste wens en Brommie die bromvoël. Truida die volstruis is geïnspireer deurdat sy en haar man in Oudtshoorn onderwysopleiding ontvang het.
Haar man, Bennie, was voor sy aftrede skoolhoof by Laerskool Eikestad in Stellenbosch. As geleerde en geliefde taalkundige het hy aan Mossel Bay Advertiser gesê dat hy maar so hier en daar vir Jurina gehelp het, maar dat hy glad nie haar skryfstyl wil beïnvloed.
Die egpaar het einde verlede jaar na Hartenbos verhuis. Hulle het drie kinders en vyf kleinkinders. Jurina se liefde vir haar kinders en kleinkinders was 'n groot inspirasie vir die skryf van haar kinderboeke. Sy wil ook graag deur haar skryfwerk gesinne bereik en harte aanraak. Jurina se boeke word deur Turksvy Publikasies uitgegee.
Een van die opvoedkundige uitbeeldings in die boekie. Foto: Jannie du Plessis
Vorige artikel: Leersame boekie oor 'n renosterjie
'Ons bring jou die nuutste Oudtshoorn, Klein Karoo nuus'