LADISMITH NUUS - Leerders van Laerskool Towerkop op Ladismith, het verlede week die geleentheid gehad om die eienskappe van die spekboom prakties te ontdek en ook om 'n aantal by die skool aan te plant.
Vuyiseka Dyantyi, van die departement van omgewingsake se jeugontwikkelingsprogram, het die leerders stap vir stap op die spekboomreis geneem.
Dyantyi wat ook betrokke is by herwinning, het aan leerders verduidelik: "Spekbome is ideaal vir droogtegebiede soos Kannaland omdat dit met min water kan klaar kom. Die bome neem ook koolsuurgas uit die lug en maak so die lug skoon."
Leerders het ook geleer dat spekbome water kan behou en dat hul blare met 'n vetlagie bedek is wat waterverlies beperk.
Die blare het 'n sitrussmakie en kan as medisyne gebruik word vir dehidrasie en uitputting. Een van die interessanthede wat die leerders geleer het, is dat sommige spekbome tot 200 jaar oud kan word. Elke leerder het self 'n gat gespit waarin die spekboom geplant is.
'Ons bring jou die nuutste Ladismith, Klein Karoo nuus'