OUDTSHOORN NUUS - Die burgerregteorganisasie AfriForum saam met beamptes van die Wes-Kaapse onderwysdepartement het vanaf 2019 'n samewerkingsverhouding om boelie in Oudtshoorn en die omgewing aan te spreek. Verlede week was hoër- en laerskole van Oudtshoorn, Calitzdorp, Dysselsdorp en De Rust bevoorreg om besoek van AfriForum se teenboelieveldtogspan te ontvang.
Inligtingsessies is met kinders gehou. Laerskole het die praatjie saam met die gelukbringer, Matteus en Tania Scheepers geniet. Leerders is bewus gemaak om boeliegedrag te herken en daarteen op te staan. Belangrike vaardighede is aangeleer om hulleself teen boelie te beskerm.
Hoërskoolleerders het die rolprent, #DieValFilm, gekyk waarin relevante kwessies rondom boelie en geestesgesondheid aangespreek is. Die rolprent is op AfriForum TV gratis beskikbaar om te kyk.
Leerders het ook na die tyd geleentheid gehad om met maatskaplike werkers en sielkundiges van die WKOD te gesels indien hulle voel hulle het dit nodig. Skole se ondersteuningspanne weet ook hoe om leerders te verwys sou dit nodig wees.
'n Insiggewende ontmoeting tussen plaaslike maatskaplike organisasies, die polisie en die WKOD het op die oggend van 20 Augustus plaasgevind. Advokaat Phyllis Vorster, aanklaer by AfriForum se privaat vervolgingseenheid, het 'n insiggewende aanbieding gedoen oor die wetlike aspekte van boeliegedrag.
Die middag is daar ook 'n sessie by Bridgton Sekondêr aangebied waar advokaat Vorster opvoeders en skoolbeheerliggaamslede van waardevolle inligting en wenke voorsien het om daadwerklik teen boeliegedrag op te tree. Die belangrikheid van gedragskodes en beleide om nie net leerders nie, maar ook opvoeders en ouers veilig te hou was 'n duidelike en belangrike boodskap wat oorgedra is.
Die besoeke is deur Marisa Lindeque en Wilma Espach, skool maatskaplike werkers, gekoördineer. Volgens Natasha Uys, voorligtingsielkundige van die WKOD, is bewusmaking in skole uiters belangrik. "Kinders moet weet wat boelie is en hoe om tekens daarvan raak te sien en dit te voorkom. Bewusmaking oor boeliegedrag en die effek daarvan moedig ook positiewe gedragsveranderinge in kinders aan. Respek teenoor mekaar moet van jongs af aangeleer word."
Volgens WKOD-beamptes word daar ook bemagtigingsessies met die onderwysers en ondersteuningspanne gehou sodat hulle ook ingelig kan wees oor waarna om op te let en hoe om in sekere situasies op te tree indien dit sou nodig wees.
‘Ons bring jou die nuutste Tuinroete, Hessequa, Karoo nuus’