OUDTSHOORN NUUS - 'n Kranige sportleerder verbonde aan 'n hoërskool op Oudtshoorn en sy ouers is ontsteld omdat hy tydelik van alle buitemuurse aktiwiteite by die skool geskors is. Die skorsing het gevolg nadat sy koeldrank vermoedelik tydens die skool se Valentynsdag-sokkie gedokter is.
Die seun is onlangs in die Protea-karatespan opgeneem, en is ook 'n A-spanlid van die skool se hokkie- en krieketspanne.
Volgens sy ma het 'n onderwyser van die skool haar om 19:30 die betrokke aand gebel en verwittig dat sy haar seun dadelik moet kom haal omdat hy glo onder die invloed van alkohol was. Met die ma se aankoms het sy gevind dat haar seun se oë botstil in sy kop staan en dat hy nie sy normale self was nie. Sy sê dat sy baie bekommerd was omdat sy haar seun nog nooit in so toestand gesien het nie. "My seun is van kindsbeen af baie sportief en ek kan eerlikwaar getuig dat ek nog nooit in sy hele lewe, enige drank aan hom geruik het nie."
Hulle het hom onmiddellik na die Oudtshoorn-hospitaal geneem. Die dokter aan diens het die seun vir observasie oornag opgeneem.
Volgens die mediese verslag wat in die Oudtshoorn Courant se besit is, kon die dokter geen spoor van alkohol of enige bekende dwelms in die seun se bloedstroom vind nie. Die dokter maak ook in hierdie verslag melding daarvan dat hy 'n sterk vermoede het dat die leerder se drankie gedokter was.
Die mediese verslag is aan die skoolhoof oorhandig. Volgens die skoolhoof kan die sanksies teen die seun nie summier opgehef word voordat die skool se amptelike tugverhoor plaasgevind het nie. Volgens hom is die leerders tans besig met eksamen, en wil hy hulle nie graag ontwrig nie.
Hy het bevestig dat dié insident na die WKOD verwys is, en dat die amptelike verhoor volgende week sal plaasvind.
Die distrikskantoor van die WKOD het bevestig dat die voorval aangemeld is en dat ondersteuning aan die leerder gebied word.
Volgens die leerder se ma verkeer haar huisgesin tans onder geweldige emosionele druk as gevolg van die hangende verhoor. Sy wil alle leerders waarsku om hul drankies te alle tye dop te hou omdat dinge baie maklik anders kon uitgedraai het. "Wat as dit 'n meisiekind was?" wou sy weet.
'Ons bring jou die nuutste Oudtshoorn, Klein Karoo nuus'