OUDTSHOORN NUUS - 'n Geleentheid vir inwoners om Saterdag hulle motors se bande op die tennisbane van die gevangenis te laat fluit en vlamvat dra skynbaar nie die goedkeuring van al die lede van die department korrektiewe dienste weg nie.
Lede wat ontsteld is oor die voorgenome byeenkoms het die Oudtshoorn Courant hierdie week gekontak en foto's verskaf van die tennisbane waar rye motorbande gepak is ter voorbereiding van die dag se motorkapperjolle.
Volgens die beswaarde lede is hulle ongelukkig omdat die tennisbane vir hierdie doel gebruik gaan word en omdat die byeenkoms glo nie in oorlegpleging met en goedkeuring van lede wat op die terrein woon, gereël is nie.
"Die tennisbane is naby die wooneenhede geleë. Hoe gaan dit klink en ruik as motors vir ure aanmekaar hier gaan spin en rubber brand? Hierdie is ons woonplek, maar die bevelvoerder steur hom nie aan ons besware nie," het een van die inwonende lede gesê.
Die bevelvoerder, Phillip Busch, stem egter nie met die klaers se weergawe saam nie. "Hier is 'n komitee op die terrein waar mense enige beswaar of klagte kan lê. Ons beplan die byeenkoms al geruime tyd en ek het nie een amptelike klagte gekry nie."
Soortgelyke byeenkomste word by die terrein van die korrektiewe dienste in Mosselbaai aangebied en is glo uiters gewild. Volgens Busch het hulle besluit om die tennisbane vir dié doel aan te wend omdat die bane glad nie deur die lede gebruik word nie en verval het.
"Ons werk daagliks met die gemeenskap en van ons kant af wil ons 'n bydrae maak om die dorp se jong mense uit die strate uit te hou. Terselfdertyd is hierdie vir ons 'n geleentheid om geld in te samel ten bate van die gemeenskap.
"Enige lid van die publiek is welkom by die byeenkoms sodat hulle self kan ervaar waaroor dit gaan."
Volgens Busch begin die verrigtinge om 12:00 Saterdagmiddag en sal dit tot ongeveer 17:00 duur. Toegangsgelde beloop R20 vir volwassenes en R10 vir kinders en volgens Busch word geld wat op hierdie manier ingesamel word weer vir projekte aangewend.
'Ons bring jou die nuutste Oudtshoorn, Klein Karoo nuus'