OUDTSHOORN NUUS - Laerskool Wesbank is vanoggend tydens die skoolbyeenkoms in die skoolsaal aangewys as die wenners van die 'Green Buddy' Cango Wildlife Ranch herwinningskompetisie.
Twee ander laerskole in Oudtshoorn, Laerskool van Rheede en Laerskool Laurus, het ook aan dié kompetisie deelgeneem.
Die kompetisie het behels dat die leerders plastiek-afvalmateriaal moes bymekaar maak wat hulle dan in herwinningsdromme wat Cango Wildlife Ranch verskaf het, moes ingooi.
Volgens Hugo du Plessis, operasionele-direkteur by Cango Wildlife Ranch, het dié drie laerskole gesamentlik daarin geslaag om 'n allemintige 3.8 ton te herwin- 'n gewig gelykstaande aan drie volwasse olifante.
"Laerskool Wesbank se bydrae tot die herwinningprojek is gelykstaande aan 2 volwasse olifante. Ons het groot planne om in die toekoms al die laerskole in die Oudtshoorn-omgewing te betrek by hierdie kompetisie", het Du Plessis gesê.
Elke leerder en onderwyser van Laerskool Wesbank het vir hul massiewe poging in dié kompetisie gratis kaartjies gewen om die Cango Wildlife Ranch te besoek enige tyd gedurende die jaar. Die waarde van die kaartjies vir die hele skool beloop bykans R97 000. Du Plessis het tydens sy spreekbeurt ook die leerders aangemoedig om herwinning by die huis te doen, en dan die plastiek-afvalmateriaal na die skool te bring sodat dit na 'n herwinningsfasilitiet geneem kan word.
'Ons bring jou die nuutste Oudtshoorn, Klein Karoo nuus'