KANNALAND NUUS - Ladismith-polisie het aan die vooraand van die feesseisoen, dit hul taak gemaak om leerders van die omliggende skole teen misdaad en die gevare daarvan, bewus te maak.
Ook in Zoar het die plaaslike polisie se sektorbestuurder sers. Henry Moses, op Sondag 6 November die 'Vlak-woongebied' sowel as plaaslike skole met dieselfde modus operandi besoek.
Kerke, die plaaslike GPF en jeugorganisasies, het aan die veldtog deelgeneem. Die kern van die gesprekvoering het gegaan oor dwelms wat vrylik beskikbaar is en jong lewens in die proses vernietig.
Moses het aan die gemeenskap genoem dat daar soveel interdikte teen gesinslede uitgeneem word bloot omdat die veranderde gedrag van die verslaafde, sy familie in vrees laat leef.
"Die gewildste dwelm onder jong kinders is dagga omdat dit onlangs gewettig is, terwyl tik en Mandrax kort op die hakke van dagga volg. Fokus op jul toekoms en moenie met dwelms en tienerseks eksperimenteer nie, want die gevolge daarvan verwoes lewens," het hy gemaan.
Sers. Bennet de Wee, het op sy beurt gesê dat die polisie, met die hulp van die gemeenskap onlangs op 2 436 Mandrax-tablette beslag gelê het en die skuldiges aan die pen laat ry het.
Die waarde van hierdie vonds het volgens De Wee meer as R50 000 beloop.
Die polisieorkes van Ladismith het na afloop van die verrigtinge heerlike vermaak met geestelike liedjies verskaf.
'Ons bring jou die nuutste Ladismith, Klein Karoo nuus'