LADISMITH NUUS - Twee motorklubs van Ladismith het verlede Vrydag ’n optog teen geweld teen vroue en kinders gehou.
‘n Groot groep inwoners het by Towerkop Primêr, saam met die klubs, Dub Worx en JapMetal, bymekaargekom waarna hulle ‘n memorandum aan die nuwe stasiebevelvoerder van Ladismith, lt.kol. Pauline Kriel, oorhandig het.
Craig Smith, voorsitter van Dub Worx, het in die memorandum genoem dat geslagsgebaseerde geweld geen kleur, ouderdom of status het nie. Hy het die Ladismith-polisie geloof vir die suksesse wat hulle teen dwelmmisbruik behaal, maar gevra dat hulle strenger teen geslagsgebaseerde geweld moet optree.
Ao Jan Cederas, woordvoerder van die Ladismith-polisie, het die motorklubs geloof vir hulle inisiatief en Kriel het op haar beurt gesê dat sy aangenaam verras is deur die gemeenskap van Ladismith se houding teenoor kwessies wat tans landwyd toeneem.
Sy het gevra dat elke ouer bewus moet wees van die doen en late van hul kinders en dat hulle aanrandings en kindermishandeling moet rapporteer. Cederas het die gemeenskap versoek om betrokke te raak by ‘n program teen dwelmmisbruik wat die SAPD in Junie loods.
'Ons bring jou die nuutste Ladismith, Klein Karoo nuus'