LADISMITH NUUS - Die Ladismith-polisie ondersoek klagte van roekelose en/of nalatige bestuur, handeldryf in mandrax en besit van dagga na 'n verdagte voertuig Sondag probeer wegjaag het toe die polisie hul wou stop.
Volgens ao. Jan Cederas, woordvoerder van die Ladismith-polisie, het hulle na bewering inligting opgevolg dat 'n silver Toyota Tazz vanaf Oudtshoorn na Ladismith onderweg is.
"Die voertuig het vermoedelik dwelms vervoer. Toe die bestuurder van die voertuig die polisie gewaar het hy 'n U-draai gemaak en terug gery in die rigting van Calitzdorp. Die polisie het die voertuig agterna gesit en gesien hoe die passasiers iets uit die voertuig gooi."
Volgens Cederas het die polisie 64 mandrax tablette en vyf banksakkies dagga opgetel.
"Die voertuig het langs die gestop waarna die bestuurder en een passasier in die veld ingehardloop het. Twee passasiers het by die voertuig gebly."
Cederas sê 'n soektog is van stapel gestuur en die polisie kon die bestuurder en die ander passasier aankeer. Die vier verdagtes, tussen die ouderdomme van 20 en 39 jaar oud het Dinsdag in die Ladismith-landdroshof verskyn.
'Ons bring jou die nuutste Ladismith, Klein Karoo nuus'