LADISMITH NUUS - Ladismith-polisie het in samewerking met departement van binnelandse sake en die departement van maatskaplike ontwikkeling bejaardes van Ladismith, Zoar, Van Wyksdorp en landelike gebiede soos Voorbaat, Van Zylsdamme en Hoeko gehelp om hul ID-kaarte te bekom.
Volgens ao. Jan Cederas, woordvoerder van die Ladismith-polisie, het die voorsitter van die senior burgers in Ladismith, Pricilla Peceur, tydens polisiëringsforumvergadering genoem dat daar baie bejaardes in die streek is wat steeds nie ID-kaarte het nie.
"Die stasiebevelvoerder, lt.kol. Jakobus Marthinus, het met binnelandse sake geskakel waarna die proses begin is. 164 bejaardes is oor drie dae na Oudtshoorn geneem om aansoek vir hul kaarte te doen," het Cederas gesê.
Cederas sê hulle dra die belange van die bejaardes op die hart.
Van die bejaardes wat gehelp is.
"Daar word gereeld met die senior burgers oor hul veiligheid vergader. Ons wil ook 'n beroep op die gemeenskap maak om die mishandeling van bejaardes by konstabel Sanet Salmon aan te meld." Sy kan by 028 551 8100 geskakel word.
'Ons bring jou die nuutste Ladismith, Klein Karoo nuus'