LADISMITH NUUS - Die nuwe kliniek wat gebou word, sal voor die einde van die jaar hulle deure vir die publiek oopmaak. Hierdie kliniek sal met voltooiing ongeveer R20 miljoen kos.
Personeel en belanghebbendes het glo alreeds verskeie inligtingsessies, ter voorbereiding van die nodige vaardighede en beplanning van die dienste wat beskikbaar gaan wees aan die publiek, gehou.
Nadia Ferreira, hoofkommunikasie-beampte van die Tuinroete en Sentraal-Karoo-distrik vir die Wes-Kaapse departement van gesondheid, sê dat die nuwe kliniek voorsiening maak vir goed geventileerde areas en dat die area ontwerp is om die vloei van pasiënte te verbeter.
"Die gemeenskap reis tans vanaf Nissenville, Sakkiesbaai en Varkieskloof, na die huidige kliniek." sê sy.
Volgens haar sal die kliniek se hooffokus glo wees om voorkomend op te tree wat betref, moeder- en kindersiektes, assessering van kroniese siektes soos bloeddruk en diabetes, en die behandeling van geringe kwale.
Pasiënte wat X-strale of meer noodsaaklike behandeling nodig het sal nog steeds na die Alan Blyth-hospitaal verwys word.
"Ons personeel poog om primêre gesondheidsorg te bevorder, insluitend immunisasies en gesinsbeplanning. Doktersbesoeke op geskeduleerde dae gedurende die maand sal ook voortduur. Tandartse, fisioterapeute en arbeidsterapeute, oudioloë en dieetkundiges sal ook die kliniek op geskeduleerde dae deur die maand besoek."
"Ladismith-kliniek se personeel sien daarna uit om te verseker dat die gemeenskap toepaslike, effektiewe behandeling in ons nuwe pasiëntgesentreerde kliniek kry," het Christine van Rensburg, operasionele bestuurder gesê.
Die Ladismith-kliniek sal vanaf 07:30 tot 16:00 van Maandae tot Vrydae vir die publiek oop wees.
Ladismith-kliniek se personeel. Foto's: Verskaf
'Ons bring jou die nuutste Ladismith, Karoo nuus'