Gallery
OUDTSHOORN NUUS - Oudtshoorn Dogs in Need het gister, 28 Julie, hul laaste aanmaning van die Oudtshoorn-munisipaliteit ontvang waarin daar gevra word dat Odin teen Maandag hul diere uit die skut moet hê.
Die Oudtshoorn Courant het vroeër die jaar berig dat Odin, sowel as Oudtshoorn-diereherberg so 'n kennisgewing ontvang het.
Volgens die aanvanklike kennisgewing moes hulle reeds Maartmaand ontruim, maar 'n vergunning is deur die munisipaliteit gemaak deur die datum na Maandag 31 Julie uit te stel. Odin en Oudtshoorn-diereherberg het dus tot Maandag om die diere te ontruim.
Volgens die Oudtshoorn Courant se berig vroeër die jaar is die besluit dat die skut alleenlik vir munisipale doeleindes gebruik gaan word, verlede jaar September deur raadslede tydens 'n raadsvergadering geneem.
Hannes Visser, woordvoerder vir die Oudtshoorn-burgemeester het gesê: "Verteenwoordigers van Oudtshoorn Dogs in Need het op 16 Januarie 'n afspraak met Walter Hendricks, die munisipale bestuurder, gehad. Hulle het verduidelik dat hulle daarvan bewus is dat hulle die munisipale skut moet ontruim, maar het gevra dat daar uitstel gegee word aangesien hulle nie teen die einde van Maart al hulle diere in George sal kan huisves nie. Hendricks het hulle gevra om 'n skriftelike versoek te rig waarin hulle vra vir uitstel tot aan die einde van Julie."
Kontak Lizelle Mouton by 076 969 8150 of Anemie Church by 084 564 1391 indien jy 'n hond wil "foster" of aanneem.
Oudtshoorn-diereherberg is genader vir kommentaar, maar hulle het tot dusver nie reageer nie.
Verwante artikel: Munisipaliteit gee kennis aan diere-organisasies
‘Ons bring jou die nuutste Tuinroete, Hessequa, Karoo nuus’