OUDTSHOORN NUUS - Meer as 70 gaste het Dinsdagaand die Kunstevriende van Oudtshoorn se aand van musiek en gedigte bygewoon. Dit was die groep se tweede aanbieding by die Klein Karoo Ostrich Emporium.
Hannes Visser, Susan Ongansie en Coen Basson het hul gedigte voorgelees, terwyl Jaco Kriek met saksofoon, Marisca Rain met kitaar en sang, en Thina Basson met klavierbegeleiding gesorg het vir uitstekende musiek.
Die digters is al drie oudonderwysers met 'n passie vir taal. Visser is die redakteur van Oudtshoorn Courant, Ongansie is 'n pas afgetrede grondslagfase-onderwyseres en Basson is 'n finansiële adviseur. Al drie is betrokke by die Klein Karoo Skryffabriek, en hul skryfwerk is deur verskeie instansies bekroon en opgeneem in bundels.
Ongansie het pas haar eerste kinderboek Kattekwaad uitgegee, Visser se gedigte is in Nuwe Stemme 6 opgeneem, en 'n kortverhaal van Basson is in die Universiteit van Stellenbosch se Woordfeesbundel 100% gepubliseer.
"Aande soos hierdie laat Oudtshoorniete besef watter plaaslik talent hier is," sê Visser. "Dit is hoe dit hoort in die nuwe Suid-Afrika: Ons het dieselfde siel en ons praat dieselfde taal," sê Ongansie.
"Dit is 'n moeilike saak om 'n digter te wees en in so min woorde as moontlik jou sê te sê," sê Basson.
Kriek is die afgelope 20 jaar 'n oogarts op Oudtshoorn. Hy het nog altyd 'n passie vir musiek gehad en van kleins af tot op universiteit in kore gesing. Hy het drie jaar gelede begin saksofoon speel. "Musiek is my passie en die saksofoon gee my 'n solostem om 'n spesifieke werk te interpreteer presies hoe my siel voel," sê hy.
Marisca Rain (Visagie) is 'n liedjieskrywer en sangeres en speel 'n groot verskeidenheid musiekinstrumente.
Sy het ook haar eie musiekskool en wil graag 'n opname-ateljee begin.
Thina Basson is die pianis by NG Kerk Oudtshoorn Moedergemeente. Sy het van kleins af op gehoor klavier gespeel en was die eerste leerling aan die Hoërskool Hangklip in Queenstown wat musiek as matriekvak geneem het.
Kunstevriende is 'n groep sonder winsbejag en kom maandeliks bymekaar. Die volgende kuier is Donderdagaand 21 Junie.
Kontak Antoinette le Roux by tonie1@telkomsa.net of stuur 'n WhatsApp na 084 567 1030 vir meer inligting.
'Ons bring jou die nuutste Oudtshoorn, Klein Karoo nuus'