OUDTSHOORN NUUS - "Die Here het vir my 'n talent gegee, maar ek moet hierdie gawe gebruik om ander ook te bemagtig."
So vertel die talentvolle skilder, Algernon Kennel, van die pragtige Karoodorpie, Ladismith in Kannaland, oor sy Kunspret-projek wat hy gratis vir jongmense aanbied.
"Ek poog ook om deur hierdie projek jongmense meer blootstelling aan die Woord van die Here te gee. Juis daarom is ons tema vir hierdie projek, Vrugte van die Gees."
Hy bied hierdie klasse twee keer per week in die plaaslike AGS Kerk in Nissenville aan.
Sukses gebeur nie oornag nie, sê Kennel. "Daar is vele aspekte wat in ag geneem moet word wanneer 'n skets op doek geplaas word, byvoorbeeld die korrekte posisionering van die skets, maar vir eers konsentreer ons eers om 'n liefde vir kuns by die jongmense aan te leer. Ons skets vir eers op A4-bladsye, voordat ons die regte doeke sal aanskaf."
Hy probeer ook leerders by verskeie laerskole betrek.
"Indien ek kinders kan aanspoor om die klasse by te woon, kan ek hulle geestelik voorberei vir die versoekings daarbuite en hulle ook so van die strate afhou. Dit is my missie. Bou 'n gesonde jongmens en jy bou 'n gesonde gemeenskap."
'Ons bring jou die nuutste Tuinroete, Hessequa, Karoo nuus’