OUDTSHOORN NUUS - Een van die plaaslike hoogtepunte van vanjaar se KKNK sou die bekendstelling van die boek, Oudtshoorn reWOLusie, wees.
Dié kleurvolle koffietafelboek vertel die stories van talle van die mense wat honderde ure spandeer het om die dorp tydens die KKNK te wolbom.
Ongelukkig maak Covid-19 sy of haar verskyning en dié pragboek se bekendstelling is in kwarantyn geplaas. Die goeie nuus is egter dat 'n aantal van die slegs 250 kopieë wat gedruk is, nog beskikbaar is. Danksy verskeie borgskappe en die vrywillige skryfwerk van plaaslike skrywers en digters, kos die boek slegs R100. Soortgelyke boeke wat in volkleur gedruk is kan tot soveel as R450 kos.
Madeleine Miles, die inisieerder van die reWOLusie-projek het by verskeie geleenthede genoem dat die stories agter die mense wat vir die projek gehekel het, uiteenlopend is en vir sommiges terapeuties was. Kry jou kopie van Oudtshoorn reWOLusie en lees die stories agter die kleurvolle skeppings wat kortstondig net voor die KKNK oral in die dorp gepryk het.
Die kopieë wat nog beskikbaar is, is by Beans About Coffee in Hoogstraat te koop teen 'n gek-lae-prys van R100.
'Ons bring jou die nuutste Oudtshoorn, Klein Karoo nuus'