OUDTSHOORN NUUS - Volgens Hugo Theart, artistieke direkteur en uitvoerende hoof van die KKNK, is alle voorsorgmaatreëls getref om beurtkrag die hok te slaan tydens hierdie jaar se KKNK.
"Elektrisiteitstoevoer in Suid-Afrika is onvoorspelbaar en beurtkrag kan op baie kort kennisgewing ingestel, of tye gewysig word. Die KKNK gebruik kragopwekkers by meeste lokale sodat vertonings selfs tydens beurtkrag kan voortgaan," vertel hy.
Hy sê dat kragtoevoer by openbare areas en buitelug-venues waarvoor die KKNK verantwoordelik is, deur kragopwekkers ondersteun sal word om sover moontlik te verseker dat die fees sonder enige onderbrekings voortgaan.
Hy maan egter dat feesgangers die nodige hulpmiddels, om goed te kan sien in areas waar daar nie voldoende lig mag wees nie, saam met hulle te dra. "Pak vir jou 'n flits of lig in om enige verrassings te voorkom," vra hy.
Hy sê ook dat feesgangers deur die KKNK-kantoor in kennis gestel sal word indien 'n vertoning gekanselleer, uitgestel of die tye verander word weens opgeskorte elektrisiteitstoevoer buite die beheer van die KKNK.
"Ons gesamentlike operasionele sentrum-span (GOS) is op bystand om enige beurtkraguitdagings so spoedig moontlik te takel," stel hy gerus.
Volgens Hannes Visser, woordvoerder van die burgemeesterskantoor, het die munisipaliteit ook 'n kragopwekker wat elektrisiteits aan die hele munisipale gebou sal voorsien.
"Dit sal beteken dat vertonings in die burgersentrum en banketsaal onaangeraak sal wees wanneer beurtkrag intree," sê Visser.
‘Ons bring jou die nuutste Tuinroete, Hessequa, Karoo nuus’