OUDTSHOORN NUUS - "Daar is baie mense wat weens die algehele inperkings nie kos in huise gaan hê nie en ons probeer bloot om die nood te verlig."
So sê Rodney Gelant van Oudtshoorn Top Model Academy, wat saam met nog rolspelers besluit het om huisgesinne te identifiseer en kos aan hulle te skenk.
Volgens hom doen hy, Joanne Swanepoel, Bennedette Landman (Mev. Heelal semi-finalis), Susan Spire en Salomé Plaatjies die uitreik.
"Hierdie is mense wat elke dag in ons gemeenskappe werk en weet waar die kos werklik nodig is.
"Ons fokus veral op huishoudings waar siek persone met kinders en persone met gestremdhede woon."
Gelant sê hulle deel kos op Oudtshoorn, De Rust en Dysselsdorp uit en het in elke dorp persone geïdentifiseer wat dit sal uitdeel.
"Ons probeer dit op 'n veilige manier doen. Ons beplan om die projek een keer 'n week te doen, afhangende van die hoeveelheid skenkings wat ons kry, en sal ook met nodige organisasies soos die polisie reël wanneer ons die kos by mense se huise uitdeel."
Die pakkies wat uitgedeel word bevat nie-bederfbare produkte soos meel, gis, toiletpapier, sopmengsel en bone.
"Indien jy jou inkopies gaan doen koop 'n blikkie of twee ekstra vir die persone wat nie by 'n winkel sal uitkom om dit te koop nie of dit bloot nie kan bekostig nie."
Die uitdeel van die pakkies het reeds begin. Enigiemand wat wil help kan Gelant by 079 617 8511 kontak.
'Ons bring jou die nuutste Oudtshoorn, Klein Karoo nuus'