OUDTSHOORN NUUS - Rodney Gelant, van Oudtshoorn Top Model Academy, is sedert die begin van die inperkingstyd, druk besig om kospakkies aan behoeftige gesinne te voorsien.
Volgens Gelant fokus hulle veral op gesinne waar mense aan ernstige, kroniese siektes ly, persone met gestremdhede en kinders.
"Ons was verlede week weer by die klinieke en het 60 pakkies uitgedeel aan mense wat dit regtig nodig gehad het. Die week werk ons saam met tuisversorgers by die hospitaal sodat ons die siek mense wat op plase woon ook kan bereik.
"Dié versorgers werk daagliks met die pasiënte en weet waar die kospakkies regtig nodig is. Die mense wat kospakkies ontvang is mense wat ly aan MIV/Vigs en tuberkulose. Hulle identifiseer dus die mense, ons gee die pakkies vir hulle en hulle gee die pakkies aan die pasiënte."
"Mense se harte gaan regtig oop vir ander in nood. Dit is ongelooflik om deel hiervan te wees en te sien dat mense in 'n tyd soos hierdie, waar almal eintlik swaarkry, probeer om mekaar se laste te verminder. Ons bedank almal wat in hierdie tyd skenkings maak uit ons harte uit."
Rodney Gelant (middel) saam met lede van die polisie, wat help met die uitdeel van pakkies, saam met 'n suster van die hospitaal.
'Ons bring jou die nuutste Oudtshoorn, Klein Karoo nuus'