OUDTSHOORN NUUS - Goedkeuring is Woensdagoggend tydens 'n spesiale raadsvergadering van die Oudtshoorn-munisipaliteit aan die Oudtshoorn departement korrektiewe dienste (DKD) verleen om munisipale water vanuit die Raubenheimerdam te gebruik vir die besproeiing van 'n groentetuin op die terrein van die Oudtshoorn Medium A-gevangenis.
Die vergunning is egter onderhewig aan streng voorwaardes.
In die versoek vra die gevangenis om die groentetuin wat aartappels, wortels, pampoen en spinasie bevat, met munisipale water te besproei omdat gryswater nie vir die doel gebruik kan word nie. Die tuin is sowat 2ha groot, maar toestemming vir die besproeiing is slegs vir 3 000vk/m (15% van 2ha).
Korrektiewe dienste het self reeds sowat R350 000 bestee om waterverbruik tot die minimum te beperk met waterbesparende maatreëls en die aanbring van skadunette.
Van die vars groente word ook aan korrektiewe eenhede op Beaufort-Wes, Prins Albert, Ladismith en die Oudtshoorn-vrouegevangenis voorsien.
Die aanbeveling van die munisipale bestuurder, Allen Paulse, lui dat die versoek vir die besproeiing van die groentetuin goedgekeur word op voorwaarde dat die tuin nie vergroot word en korrektiewe dienste op eie koste 'n watermeter aanbring om waterverbruik te monitor en nie 300kl per maand oorskry nie.
Die vergunning duur ook net vir die tydsduur wat Oudtshoorn tot droogte rampgebied verklaar is, met die Raubenheimerdam bo 40%.
Korrektiewe dienste moet ook toesien dat die totale area onder besproeiing van skadunet voorsien word, 'n besproeiingstelsel aangebring word en besproeiing slegs vroegoggend en saans geskied.
Die toegewing sal hersien word indien die damvlak van die Raubenheimerdam laer is as 40%.
- 'n Versoek van die Klein Karoo Vaardigheidskool om boorgatwater vir die besproeiing van die skool se sportterrein te gebruik ter voorbereiding vir 'n nasionale toutrekkampioenskap volgende maand, is op voorstel van die burgemeester ook aanvaar.
'Ons bring jou die nuutste Oudtshoorn, Klein Karoo nuus'