BEAUFORT-WES NUUS - 'n Koperdief, wat reeds in 2014 in hegtenis geneem is, is verlede Donderdag tot 10 jaar gevangenisstraf in die Oudtshoorn-streekhof gevonnis.
Die voorval het reeds in 2013 naby Beaufort-Wes plaasgevind.
Volgens lt.kol. Philani Nkwalase, woordvoerder van die Valke, is Nelson Carlos Balane (35), deur polisie tydens 'n roetine padblokkade buite Beaufort-Wes gestop, maar het Balane van die polisie gevlug.
"'n Jaagtog het gevolg waarna Balane die Toyota Hilux-bakkie langs die pad gelos het en te voet verder gevlug het. In die voertuig het die polisie koperkabels van Telkom te waarde van R100 000 gevind. Die georganiseerde misdaad ondersoekspan van die Wes-Kaapse Valke het Balane op 15 Mei 2014 in Benoni in hegtenis geneem en ook sy voertuig gekonfiskeer."
Hy het aanvanklik in die Beaufort-Wes-landdroshof verskyn, waar borgtog aan hom geweier is. Die saak is later na die Oudtshoorn-streekhof oorgeplaas.
Balane het in sy pleitverduideliking gesê dat hy onskuldig pleit en dat hy nie die kabels gesteel het nie. Die polisie het, volgens Balane se pleitverduideliking, sy voertuig gekonfiskeer omdat dit glo in 'n ander misdryf betrokke was.
Balane het probeer om sy voertuig weer by die polisie terug te kry, maar die voertuig is na sy skuldigbevinding aan die staat verbeurd verklaar.
'Ons bring jou die nuutste Beaufort-Wes, Klein Karoo nuus'