PRINS ALBERT NUUS - Hy het hom onderskei as een van Suid-Afrika se voorste filmmakers, regisseurs, kinematograwe en draaiboekskrywers, bekend vir sy werk aan ikoniese films soos Faan se trein en Die wonderwerker, asook die tydlose TV-reeks Koöperasiestories.
Nou vereer The Showroom Theatre in Prins Albert die befaamde en bekroonde Koos Roets van Klaarstroom van 18 tot 21 Desember met 'n feesaanbieding van sommige van sy films.
Roets het bevestig dat hy en sy lewensmaat, Eunice Visser, self by die geleentheid teenwoordig gaan wees. Hy gaan die fees op die Vrydagaand open met 'n gesprek oor sy lewe en loopbaan in die rolprentbedryf wat in 1962 begin het.
'n Dokumentêr oor sy lewe, vervaardig deur Simon Barnard (seun van die filmregisseur Katinka Heyns en die skrywer Chris Barnard) word ook op dié aand vertoon, met Heyns as een van die teater se gaste.
Die films wat tydens die Koos Roets-fliekfees vertoon gaan word, is Faan se trein (2013), Abraham (2013), Die hoener met die rooi skoene (2017), Die wonderwerker (2012), Nag van die negentiende (1992), Die storie van Klara Viljee (1992), Paljas (1988), Kootjie Emmer (1977), Die sersant en die Tiger Moth (1974), Vlug van die Seemeeu (1972) en Die erfgenaam (1971). Hy was die regisseur van minstens 20 rolprente en kinematograaf van sowat tien.
Volgens Marelize Vorster, bestuurder van The Showroom, en Daniel Dercksen, bemarkingsbestuurder, word Roets vereer nie net omdat hy 'n bekende in die omgewing is nie, maar ook om toerisme in Prins Albert in die feestyd 'n hupstoot te gee.
Roets het aan Oudtshoorn Courant gesê hy is bly dat ook sy ouer werk steeds onthou word. Hy sal die hele naweek in die dorp wees om saam met fliekgangers te kuier.
Die skrywer en rolprentresensent Leon van Nierop beskryf Roets in sy boek Daar doer in die fliek (Protea Boekhuis, 2016) as 'n uitstekende kameraman wat "met beligting 'n boeiende atmosfeer" skep.
Roets het in 1962 as assistent-kinematograaf – destyds assistent-kameraman genoem – begin werk aan die rolprentmaker en regisseur Jamie Uys se Lord oom Piet. Van Nierop beskryf Paljas en Die storie van Klara Viljee, met Roets as kinematograaf, as "meesterstukke" en Die Wonderwerker as "fenomenaal". Oor Faan se trein, waarvan Roets die regisseur was, sê hy dit het die Afrikaanse rolprentlandskap vergroot en verryk.
Roets was betrokke by altesame 150 produksies en is al 35 keer vir pryse benoem, waarvan hy 33 keer as wenner bekroon is.
Hy word op 7 Januarie 2021 78 jaar word.
'Ons bring jou die nuutste Prins Albert, Klein Karoo nuus'