OUDTSHOORN NUUS - Hoe die sakegemeenskap en die owerhede kan saamwerk om van Suid-Afrika 'n beter plek te maak, gaan aanstaande Donderdag 7 en Vrydag 8 November onder die vergrootglas kom tydens die Afrikaanse Handelsinstituut (AHi) se jaarlikse kongres wat by Makietie Venue, Volmoed naby Oudtshoorn gehou word.
Benewens deskundiges en die gehoor wat koppe bymekaar gaan sit, gaan erkenning ook gegee word vir bydraes in die sakegemeenskap.
Die geleentheid skop die Donderdag af met 'n gala-aand. Die gasspreker is prof. Jannie Rossouw, politieke ekonoom en besoekende professor aan Wits Sakeskool. Die tema van sy toespraak is, 'Bou aan 'n beter Suid-Afrika'.
Erkenning en toekennings sal die aand aan belanghebbendes in die sake-gemeenskap gemaak word. Daaronder is, beginnerbesigheid van die jaar; gasvryheidsbesigheid van die jaar; kleinboer van die jaar; opkomende sakeleier van die jaar; opkomende sakekamer van die jaar; en sakekamer van die jaar. Altesaam twee spesiale voorsitterstoekennings gaan ook gemaak word.
Die Vrydag begin verrigtinge met 'n bespreking, 'Waar lê ons stem as klein besighede in die beplande Nasionale Dialoog?'.
Die spreker is Christo van der Rheede van die FW de Klerk-stigting en Jody Hendricks is die gespreksleier.
Lede van die paneel is Willem Jordaan, redakteur van Die Burger, Jannie Strydom, uitvoerende hoof van Agri Wes-Kaap, Japie Gouws, voormalige hoof van die ATKV, en prof. Jannie Rossouw.
Later die oggend vind die tweede paneel-bespreking plaas. Die tema is 'Samewerking tussen sakekamers en plaaslike regering vir ekonomiese groei'.
Dr. Willie Cilliers, uitvoerende hoof van die AHi, sê mense is welkom om die geleentheid by te woon. Hy benadruk dit gaan die vorm van 'n dialoog aanneem en kongresgangers sal kan saam gesels en insette lewer.
Volgens hom is die beplande Nasionale Dialoog baie belangrik. "Die regering wil 'n besigheidsklimaat vestig. Dis belangrik dat die sakegemeenskap deel sal wees van die besigheidsklimaat. Tydens die besprekings sal gekyk word na die betrokkenheid van die verskillende sektore in die sakegemeenskap soos korporatiewe ondernemings, klein besighede en die informele sektor."
Hy sê daar is nou 'n beter situasie in die land met die Regering van Nasionale Eenheid as 'n paar maande gelede. "Ons moet saamwerk en dit moet af filter na grondvlak waar sakekamers en plaaslike owerhede is. Sakekamers moet die stem van besighede in hul onderskeie, stede, dorpe en gemeenskappe wees."
Vir meer inligting, kontak die AHi-kantoor by 079 592 5945 en of stuur 'n e-pos na info@ahiwc.com.
‘Ons bring jou die nuutste Tuinroete, Hessequa, Karoo nuus’