OUDTSHOORN NUUS - Die Oudtshoorn polisie is bekommerd oor die toename in die aantal inbrake by wonings.
Volgens kapt. Louis Visser, kommunikasiebeampte van die SAPD in Oudtshoorn is daar sedert die middel van Junie 'n aansienlike toename in huisinbrake. Hy sê dit is veral wonings in Bridgton en Bongolethu wat deurloop.
Die meeste van die aangemelde inbrake vind snags plaas.
Alhoewel enige waardevolle items gesteel word, was daar volgens Visser ook ‘n aantal voorvalle waar kruideniersware, klerasie en skoene gesteel is.
Eiendom wat gereeld gesteel word is toestelle soos televisies, rekenaars en selfone.
"Dit is vir die polisie kommerwekkend om te sien hoe maklik diewe toegang tot die huise verkry. Gedurende die afgelope maand is daar by ongeveer 50% van die voorvalle toegang verkry deur die buitedeure van die wonings.
Visser vra dat inwoners die volgende wenke ernstig moet opneem en toepas om die polisie by te staan om huisbrake te voorkom:
• Verseker dat alle vensters op knip is as daarn iemand tuis is nie.
• Diefwering en alarms is die grootste afskrikmiddel en sal die risiko van ‘n inbrake verminder.
• Maak seker dat diefwering stewig is en gapings klein genoeg om te verhoed dat 'n kind kan deurwurm.
• Huisbrake vind nie net snags plaas nie. sorg dat vensters toegemaak is en deure gesluit word, al is daar mense tuis.
• Moenie waardevolle items naby vensters los nie.
• Wees op die uitkyk vir vreemde persone in die omgewing en rapporteer dit aan die Polisie.
• Goeie vriendskappe en buurmanskap kan huisbrake verhoed. Stel bure en vriende in kennis as die huis leeg is sodat hulle 'n ogie kan hou.
• Maak seker daar is niks wat buite die huis rondlê wat deur inbrekers gebruik kan word om toegang to die huis te kry nie.
"Met die publiek se hulp en bystand kan ons die voorkoms van misdaad verminder. Ons wil ook ‘n beroep op die publiek doen om nie gesteelde eiendom te koop nie. Wees waaksaam as persone u nader met items wat hulle vir kontant wil verkoop. Verwittig die polisie onmiddelik indien u deur 'n verdagte persoon wat vermoedelik gesteelde eiendom wil verkoop, genader word."
'Ons bring jou die nuutste Oudtshoorn, Klein Karoo nuus'