OUDTSHOORN NUUS - 'n 21-jarige onderwysstudent, Keaton Arends, verbonde aan die Suid-Kaap Kollege op Oudtshoorn, het Saterdag 19 September by Du Toitsdam op Louterwater (Oos-Kaap) verdrink.
Arends se ouerhuis is op Haarlem en hy het tydens sy studies in die SKK-koshuis gewoon. Hy sou oor 'n week sy studies hervat het wanneer die kollege weer oopmaak.
Volgens sy ma, Sharon Arends, het hy en sy vriendin en hulle dogtertjie vir die naweek in die Oos-Kaap gaan kuier. Volgens haar het hulle besluit om Saterdag by die dam uit te span.
"Dis regtig vir my vreemd dat Keaton sommer net so kon verdrink het omdat ek weet dat hy 'n baie goeie swemmer was. Volgens wat ek gehoor het by persone op die toneel het Keaton gaan swem en vermoedelik 'n pyn op sy bors gekry terwyl hy in die water was. Mense wat langs die dam was, het gesê hy het sy hand op sy bors gehou en met die ander hand gewaai vir hulp, waarna sy kop onder die water verdwyn, en nooit weer opgekom het nie.
"Dis vir ons as familie 'n bitter pil om te sluk omdat my kind se hele lewe nog voor hom gelê het."
Een van Keaton se vriendinne, Jacky Oktober, het hom as 'n persoon vol lewe beskryf. "Hy was so opgewonde oor die feit dat hy oor 'n paar jaar 'n volwaardige onderwyser sou wees. Vra enige een, Keaton sou nie 'n vlieg seermaak nie."
Volgens Sharon het duikers haar seun se liggaam Sondag gevind en beoog hulle om die begrafnis hierdie naweek af te handel. Keaton word oorleef deur sy broer Caville, suster, Sumè en ouers Sharon en Kevin.
'Ons bring jou die nuutste Oudtshoorn, Klein Karoo nuus'