OUDTSHOORN NUUS - Heritage Oudtshoorn Erfenis (HOE) 'n instansie wat hom daarop skoei om Oudtshoorn se erfenis en ou geboue te bewaar het bekende klipmesselaar, Joost Pyck, se hulp ingeroep om 'n geweldriehoek (pediment) by Tuishuis, 'n tehuis vir bejaardes, te herstel.
Die gebou dateer uit die 1890's en was aanvanklik 'n here buiteklub (Gentlemen's Country Club) en is in 1970 omskep in 'n biblioteek.
Carol Jeal, voorsitter van HOE, het gesê dat hulle tydens een van die erfenisstaproetes die omvang van die skade aan die gewel besef het.
"Dit het baie sleg gelyk, en ons het Tuishuis gevra of ons instansie dit maar kan herstel," vertel sy.
Volgens haar beloop die herstel van die gewel etlike duisende rande.
"Ongelukkig is dit 'n duur storie, maar ons probeer ons erfenis behou. HOE wil ook graag in die toekoms fokus op die herstel en instandhouding van ander sandsteengeboue in die dorp en is besig met insamelingsgeleenthede vir dit."
Die geweldriehoek by Tuishuis is uniek en gebou uit sandsteen soos die res van die gebou.
Pyck het verduidelik dat die verbrokkeling plaasvind weens erosie of weerstoestande.
Enigiemand wat by HOE betrokke wil raak of meer inligting wil hê kan 'n e-pos na houdtshoorne@gmail.com stuur.
Joost Pyck
Hy het sy ambag in Vlaandere, sy geboorteland, bemeester en is voltyds besig en spesialiseer in steenbouwerk of klipwerk. Hierdie oeroue kunsvorm is nie baie bekend in Suid-Afrika nie, maar wel in Europa waar heelwat ou geboue uit sandsteen gebou is.
Volgens hom gaan die proses 'n paar weke duur aangesien die klip baie presies bewerk moet word om in te pas in die geweldriehoek. Pyck beoefen die unieke kunsvorm sedert die tagtigerjare. Hy noem dat dit 'n stowwerige proses is, maar put genot daaruit om met sandsteen te werk en die eindresultaat te sien.
Steenbouwerk of klipwerk is die skepping van geboue, strukture en beeldhouwerk deur klip as die primêre materiaal te gebruik. Dit is die kuns om klippe te vorm en te rangskik, dikwels saam met mortel en selfs die antieke kalkmortel, om gevormde strukture te muur of te bedek.
‘Ons bring jou die nuutste Tuinroete, Hessequa, Karoo nuus’